Maandelikse Liahona-boodskap, November 2025
Beproef en Versterk in Christus
Beproewingsoomblikke is nie ʼn bewys dat die Here jou verlaat het nie. Dit is eerder ʼn bewys dat Hy jou genoeg liefhet om jou te louter en te versterk.
My liewe broers en susters, ek voel die liefde van die Here terwyl ons bymekaarkom. Ek voel nederig om met julle te praat. Ek bid dat die Gees dít wat die Here wil hê julle moet hoor in julle harte sal dra, ver bo die woorde wat ek sal spreek.
Lank gelede het ek in my universiteitsjare fisika en wiskunde probeer leer. Ek het oorweldig gevoel. Ek het begin voel dat ek iets probeer leer wat my te bowe gaan. Hoe meer ek oorweldig gevoel het, hoe minder het ek die krag gevoel om aan te hou probeer. My mismoedigheid het my laat voel dat my pogings feitlik vrugteloos was. Ek het daaraan begin dink om op te hou, om iets makliker te doen.
Ek het swak gevoel. Terwyl ek gebid het, het ek die stille versekering van die Here gevoel. Ek het gevoel hoe Hy vir my gedagtes sê: “Ek beproef jou, maar Ek is ook met jou.”
Ek het toe nie geweet wat al daardie woorde beteken nie. Maar ek het geweet wat om te doen—ek het gaan werk.
Deur na te dink en te werk gedurende die daaropvolgende jare, het ek hierdie boodskap van bemoediging in die skrifture verstaan: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Ek het geleer dat my stryd met fisika eintlik ʼn gawe van die Here was. Hy het my geleer dat ek met sy hulp dinge kon doen wat onmoontlik gelyk het as ek die geloof gehad het dat Hy daar sou wees om my te help. Deur hierdie gawe het die Here gewerk om my te beproef en te versterk.
Die woord beproef het verskeie betekenisse. Om iets te beproef, is nie bloot om dit te toets nie. Dit is om sy krag te verhoog. Om ʼn stuk staal te beproef, is om dit onder spanning te plaas. Hitte, gewig en druk word bygevoeg totdat die ware aard daarvan verbeter en geopenbaar word. Die staal word nie verswak deur die beproewing nie. Trouens, dit word iets wat vertrou kan word, iets wat sterk genoeg is om groter laste te dra.
Die Here beproef ons op dieselfde manier om ons te versterk. Daardie beproewing kom nie in oomblikke van gemak of vertroosting nie. Dit kom in oomblikke wanneer ons uitgerek voel bó wat ons gedink het ons kan verdra. Die Here leer dat ons moet aanhou groei en nooit moeg word in ons pogings nie, dat ons nooit moed opgee nie, dat ons aanhou probeer.
Wanneer ons aanhou om geloof in Jesus Christus te hê—selfs wanneer dinge op die oomblik vir ons onmoontlik voel—word ons geestelik sterker. Die heilige skriftuurlike verslae beklemtoon hierdie waarheid.
Die profeet Moroni is byvoorbeeld op só ʼn manier beproef en versterk. Hy het sy laaste jare alleen geleef. Hy het geskryf dat hy geen vriende gehad het nie, dat sy pa vermoor is, dat sy volk vernietig is. Hy is gejag deur diegene wat sy lewe gesoek het.
Maar Moroni het nie moed verloor nie. In plaas daarvan het hy sy getuienis van Jesus Christus op plate gegraveer vir mense wat hy nie sou sien nie, insluitend die nageslag van die mense wat hom wou doodmaak. Hy het vir ons geskryf. Hy het geweet dat sommiges sy woorde sou bespot. Hy het geweet dat sommiges hulle sou verwerp. Tog het hy aanhou skryf.
In sy beproewing is Moroni se geloof gelouter en versterk. Dit het suiwerder geword. Sy woorde dra die krag van iemand wat tot die einde toe getrou volhard het. Ons kan daardie krag voel as ons sy getuienis lees:
“Nou ek, Moroni, skryf ietwat soos wat ek goeddink. En ek skryf aan my broers, die Lamaniete; ek wil hê dat hulle moet weet dat meer as vierhonderd en twintig jaar verbygegaan het vandat die teken gegee is van die koms van Christus.
“En ek verseël hierdie kronieke, nadat ek ʼn paar woorde gespreek het by wyse van vermaning tot julle.
“Kyk, ek wil julle vermaan dat wanneer julle hierdie dinge sal lees, as dit wysheid is in God dat julle hulle sal lees, dat julle sal onthou hoe barmhartig die Here was jeens die kinders van mense, vanaf die skepping van Adam tot die tyd dat julle hierdie dinge sal ontvang, en dit in julle harte bepeins.
“En wanneer julle hierdie dinge sal ontvang, wil ek julle vermaan dat julle God sal vra die Ewige Vader, in die Naam van Christus, of hierdie dinge nie waar is nie; en as julle sal vra met ʼn opregte hart, met opregte begeerte, en met geloof in Christus, sal Hy die waarheid daarvan openbaar aan julle, deur die krag van die Heilige Gees.
“En deur die mag van die Heilige Gees mag julle die waarheid weet van alle dinge.”
Moroni se getuienis was gelouter in eensaamheid, maar dit skyn met lig om alle geslagte te lei om ons Vader in die hemel en die Saligmaker Jesus Christus te soek.
Nog ʼn profeet van die Boek van Mormon, Jakob, is beproef en versterk as ʼn kind wat beproewinge en baie hartseer ervaar het. Maar sy vader, Lehi, het hom geleer dat God hom deur sy beproewinge sou seën.
“En kyk, in jou kinderdae het jy verdrukking gely en baie droefheid, vanweë die ruheid van jou broers.
“Desnieteenstaande, Jakob, my eersgeborene in die wildernis, jy ken die grootheid van God; en Hy sal jou verdrukkinge tot jou voordeel heilig.
“Daarom, jou siel sal geseënd wees, en jy sal veilig woon met jou broer Nefi; en jou dae sal deurgebring word in die diens van jou God. Daarom, ek weet dat jy verlos is, vanweë die regverdigheid van jou Verlosser; want jy het gesien dat Hy in die volheid van die tyd kom om heil te bring vir mense.”
Die profeet Joseph Smith het sulke beproewing en versterking ervaar toe hy in die Liberty-gevangenis was. In die diepte van sy angs, het die profeet Joseph uitgeroep:
“O God, waar is U? …
“Hoe lank sal u hand weerhou word?”
Die Here het die heiligmakende effek gesien in hoe Joseph sy lyding verduur het toe Hy geantwoord het:
“My seun, vrede vir jou siel; jou teëspoed en verdrukkings sal slegs ʼn kort oomblik wees;
En dan, indien jy dit goed verduur, sal God jou omhoog verhef; jy sal triomfeer oor al jou vyande.”
Die plan van saligheid is gesentreer op die Saligmaker se Versoening. Hy het die sondes van die wêreld op Homself geneem. Hy het ons pyn en ons hartseer gedra. Hy het uit die bitter beker gedrink. Hy was in elke oomblik getrou.
As gevolg van sy glorieryke Versoening kan Jesus Christus ons versterk in ons tye van beproewing. Hy weet hoe om ons te help, want Hy het ál die uitdagings ervaar wat ons ooit in die sterflike lewe sal ervaar. “Hy [sal] die pyne en die siektes van sy volk op Hom neem … sodat Hy volgens die vlees mag weet hoe om sy volk by te staan volgens hulle krankhede.”
Ons leer dat terwyl Hy in die Tuin van Gétsémane was, die Saligmaker die Vader gevra het of die beproewing verby Hom kon gaan—maar toe het Hy ook gesê dat as dit die Vader se wil was, dan sou die Saligmaker dit doen. Met ander woorde, die Saligmaker het selfs twyfel en onsekerheid aanvaar, maar Hy het geloof in sy Hemelse Vader gehad.
Broers en susters, julle beproewing en versterking lyk dalk nie soos Moroni of Jakob s’n of die profeet Joseph s’n nie. Maar dit sal kom. Dit kan stil kom, deur die beproewinge van die gesinslewe. Dit kan kom deur siekte of teleurstelling of hartseer of eensaamheid.
Ek getuig dat hierdie oomblikke nie ʼn bewys is dat die Here jou verlaat het nie. Dit is eerder ʼn bewys dat Hy jou genoeg liefhet om jou te louter en te versterk. Hy maak jou sterk genoeg om die gewig van die ewige lewe te dra.
As ons getrou bly in ons diens, sal die Here ons louter. Hy sal ons versterk. En eendag sal ons terugkyk en sien dat daardie einste beproewinge ʼn bewys van sy liefde was. Ons sal sien dat Hy ons gevorm het om saam met Hom in heerlikheid te kan staan. Soos die Here se apostel Paulus aan die einde van sy eie lewe gesê het: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”
Ek getuig dat God jou ken. Hy ken die beproewinge wat jy in die gesig staar. Hy is met jou. Hy sal jou nie verlaat nie. Ek getuig dat Jesus Christus die Seun van God is. Hy is ons krag, ons Verlosser, ons hoop. As ons Hom vertrou, sal Hy ons geestelike krag gelyk maak aan elke beproewing wat ons geroep is om te dra. Ek getuig so in die heilige Naam van Jesus Christus, amen.
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, November 2025. Afrikaans. 19603