2025
Sien op na God en Lewe
November 2025


Maandelikse Liahona-boodskap, November 2025

Sien op na God en Lewe

Dit is slegs deur op God te vertrou dat individue, families en selfs nasies kan floreer.

Verlede Junie het ʼn verskriklike ongeluk in Lesotho in Suider-Afrika plaasgevind. ʼn Minibus met 20 jongdames van die Maputsoe-tak van die Kerk en sewe van hul leiers was op pad na die hoofstad, Maseru, vir ʼn byeenkoms van jongdames uit hul distrik. Terwyl hulle in die oggendure op die tweebaansnelweg gery het, het ʼn motor wat van die teenoorgestelde rigting gekom het en probeer het om ʼn ander voertuig verby te steek, in die baan gekom waarin hulle bus gery het. Daar was geen ruimte of tyd om ʼn kop-aan-kop botsing te vermy nie, en binne sekondes het die voertuie gebots, van die pad af gerol en in vlamme uitgebars.

Altesaam 15 mense het in die ongeluk gesterf, insluitende ses jongdames, twee Jongdames-leiers en die takpresident en sy vrou. Oorlewendes, familielede en vriende het ʼn reeks emosies uitgespreek, insluitend oomblikke van woede, depressie en selfs skuldgevoelens. Ten spyte van hierdie gevoelens en onbeantwoorde vrae, het hulle mekaar vertroos en hulle tot God gewend deur gewyde musiek, die skrifture en gebed, waar hulle vertroosting gevind het. Die sewentienjarige oorlewende Setso’ana Selebeli het getuig: “Jesus Christus het ons lief en is met ons, al is ons harte seer.”

Lede in Lesotho

Foto deur Jeffrey D. Allred, Deseret News

ʼn Jongdame en ʼn leier wat in die hospitaal behandel is vir brandwonde, het die Boek van Mormon saam bestudeer. Een het gesê: “Die afgelope tyd het ons in Moroni gelees, en Moroni sê presies wat ek gevoel het. … Wanneer hy praat, is dit asof hy sê: ‘Jy moet hierdie woorde leer, want dit is vir jou geskryf om jou te help om hierdeur te gaan.’”

Begrafnis in Lesotho

By ʼn gesamentlike begrafnisdiens vir diegene wat omgekom het, het Area Sewentig Ouderling Siyabonga Mkhize gesê: “Ons moet ons almal in hierdie tyd tot die Here wend en Hom vra om ons harte te vertroos en … om die pyn wat ons voel, te verlig.” Die Jongdamespresident van die naburige Leribe-tak, Mampho Makura, het aangespoor: “Wend jou tot die Here en vind die krag om sy wil te aanvaar. Jesus Christus is ‘die Leidsman en Voleinder van ons geloof’ [Hebreërs 12:2]. Moenie wegkyk nie, maar sien op na Hom.”

Sien op na Hom. Haar woorde eggo Alma se raad aan sy seun Helaman: “Sien dat jy opsien na God en lewe.” Alma het die ondervinding van Lehi en sy volk met die Liahona as ʼn voorafskaduwing genoem: “Want kyk, dit is net so maklik om gehoor te gee aan die woord van Christus, wat jou ʼn reguit koers sal aanwys na ewige geluksaligheid, soos wat dit vir ons vaders was om ag te slaan op hierdie kompas, wat hulle ʼn reguit koers sou aanwys na die beloofde land.” Alma het gesê: “As hulle sou kyk, mag hulle lewe. … En as ons sal kyk, mag ons vir ewig lewe.”

By ʼn ander geleentheid het Alma die voorbeeld aangehaal van die koperslang wat deur Moses opgewek is toe die eertydse Israeliete deur vurige slange geteister is. Die Here het vir Moses gesê om ʼn beeld van ʼn slang te maak en dit op ʼn paal te lig, met die belofte “dat elkeen wat gebyt word, sal lewe as hy daarna kyk.” Alma het verduidelik dat die koperfiguur ʼn voorafskaduwing of simbool van Christus was, wat aan die kruis opgehef sou word. Baie het wel gekyk en gelewe, maar ander was, in Alma se woorde: “so verhard” dat hulle eenvoudig nie wou kyk nie en het omgekom.

Alma het gevra:

“O my broers, as julle genees kon word deur bloot met julle oë rond te kyk sodat julle genees mag word, sou julle nie gou kyk nie, of sou julle eerder julle harte verhard in ongeloof, en traag wees dat julle nie met julle oë sal rondkyk nie, sodat julle mag omkom?

“… Kyk dan rond met julle oë en begin om te glo in die Seun van God, dat Hy sal kom om sy volk te verlos, en dat Hy sal ly en sterwe, om versoening te doen vir hulle sondes; en dat Hy weer sal opstaan uit die dood, wat die opstanding sal teweegbring dat alle mense voor Hom sal staan om geoordeel te word op die laaste en oordeelsdag, volgens hulle werke.”

Die raad “sien op na God en lewe” het natuurlik nie net betekenis vir ons in die ewigheid nie, maar maak ook die verskil in die karakter en kwaliteit van ons sterflike lewens. Onthou die woorde van jong suster Selebeli in Lesotho wat reeds genoem is—“Jesus Christus het ons lief en is met ons, al is ons harte seer.”

Dit is in die aard van ʼn gevalle wêreld—waar Satan woed en waar almal onvolmaak is—dat daar teleurstellings en oortredings, lyding en hartseer, mislukking en verlies, vervolging en onreg sal wees. Dit is slegs deur op God te vertrou dat individue, gesinne en selfs nasies kan floreer. President Russell M. Nelson het onderrig: “Omdat die Saligmaker, deur sy oneindige Versoening, elkeen van ons verlos het van swakheid, foute en sonde, en omdat Hy elke pyn, bekommernis en las ervaar het wat julle nog ooit gehad het, [sien Alma 7:11–13], dan as julle waarlik bekeer en sy hulp soek, kan jul uitstyg bo hierdie huidige onseker wêreld.”

Geen belofte word meer dikwels in die Boek van Mormon herhaal as hierdie nie: “In soverre julle my gebooie sal onderhou, sal julle voorspoedig wees in die land; maar in soverre julle my gebooie nie wil onderhou nie, sal julle afgesny word van my teenwoordigheid.” Die geleefde ervaring van die Boek van Mormon-volke oor eeue heen demonstreer die waarheid van hierdie woorde. “Voorspoed” het beteken om die leiding en seëninge van die hemel in hul lewens te geniet. “Voorspoed” het beteken om vlakke van ekonomiese welstand te bereik wat hulle in staat gestel het om te trou, gesinne groot te maak en in die behoeftes van ander te voorsien. “Voorspoed” het die vermoë ingesluit om bo swaarkry en beproewing uit te styg. Deur die genade van Christus het “alle dinge saamgewerk tot [hulle] beswil,” hulle gelouter en hulle verhouding met Hom verdiep.

Alma het verduidelik dat om na God op te sien, is om sy gebooie te onderhou, voortdurend tot Hom te roep vir sy ondersteuning, Hom te raadpleeg in al jou dade, en jou hart dag en nag vol dankbaarheid jeens Hom te laat wees. God se gebooie en raad word in die skrifture en die woorde van sy dienaars gevind. Die beginsels en ideale wat in “Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld” uiteengesit word, is ʼn uitstekende voorbeeld. Nog een is die riglyne in die boekie For the Strength of Youth. Die Jongmans en Jongdames se tema vir hierdie jaar is “Sien op na Christus,” wat uit die Here se vertroostende leiding aan Joseph Smith en Oliver Cowdery geneem is dat hulle in elke gedagte na Hom moet kyk en nie twyfel of vrees nie. For the Strength of Youth spreek tot verskeie van God se dringendste gebooie en standaarde en leer hoe om na die Here op te sien om goeie besluite te neem. Dit is ʼn gids nie net vir die jeug nie, maar vir ons almal.

As ʼn baie belangrike voorbeeld, het For the Strength of Youth belangrike leiding in die hoofstuk getiteld “Jou Liggaam Is Heilig.” Dit leer: “Behandel jou liggaam—en ander se liggame—met respek. Wanneer jy besluite neem oor jou kleredrag, haarstyl en voorkoms, moet jy jouself afvra: ‘Eer ek my liggaam as ʼn heilige gawe van God?’”

For the Strength of Youth sê verder: “Hou seks en seksuele gevoelens heilig. Hulle moet nie die onderwerp van grappies of vermaak wees nie. Buiten die huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou is dit verkeerd om aan die privaat, heilige dele van ʼn ander persoon se liggaam te raak, selfs al is dit geklee. In jou keuses oor wat jy doen, kyk, lees, luister, oor dink, plaas of teksboodskappe, vermy enigiets wat doelbewus wellustige emosies by ander of jouself wek.”

Dit herinner aan President Nelson se onlangse vermaning:

“Min dinge sal jou lewe vinniger bemoeilik as om hierdie goddelike wet [van kuisheid] te oortree. Vir diegene wat verbonde met God gesluit het, is onsedelikheid een van die vinnigste maniere om jou getuienis te verloor.

“… Die mag om lewe te skep is die een voorreg van goddelikheid wat Hemelse Vader sy sterflike kinders toelaat om uit te oefen. God het dus duidelike riglyne gestel vir die gebruik van hierdie lewende, goddelike mag. Fisieke intimiteit is slegs vir ʼn man en ʼn vrou wat met mekaar getroud is.

“Baie van die wêreld glo dit nie, maar die openbare mening is nie die arbiter van die waarheid nie. Die Here het verklaar dat geen onkuise mens die hemelse koninkryk sal bereik nie. … As jy onkuis was, pleit ek by jou om jou te bekeer. Kom na Christus en ontvang sy belofte van volkome vergifnis wanneer jy ten volle van jou sondes bekeer [sien Jesaja 1:16–18; Leer en Verbonde 58:42–43].”

Onthou dat in die Boek van Mormon se belofte, die teenoorgestelde van voorspoed nie armoede was nie—dit was om afgesny te word van die teenwoordigheid van die Here. Sy teenwoordigheid verwys na die invloed van sy Gees in ʼn mens se lewe. Almal is deurdrenk van die Lig van Christus wanneer hulle in die wêreld kom. Daarbenewens tree sommige op om gedoop te word en die gawe en bykomende lig van die Heilige Gees te ontvang. Hy bring inspirasie en leiding, verbeter en verfyn ʼn mens se inherente gawes en vermoëns, en help om bose invloede, swak besluite en doodloopstrate te vermy.

Soos jy, ken ek sommiges wat eens die gawe van die Heilige Gees geniet het, maar wat deur versuim om die gebooie van God te onderhou, daardie seëning verloor het. Een in die besonder kom by my op wie se lidmaatskap van die Kerk weens oortreding onttrek is. Hy het gesê dat sy aanvanklike reaksie was om aanstoot te neem. Hy het gevoel dat hy deur onvolmaakte leiers beoordeel word. Hy het geweet sy gedrag was verkeerd, maar hy het dit gerasionaliseer deur na die foute en tekortkominge van ander te wys. Na ʼn rukkie het hy gemaklik begin voel in ʼn leefstyl buite die Kerk sonder die verpligting van roepings en verwagtinge om eredienste by te woon en ander te dien.

Dit het vir ʼn geruime tyd voortgeduur, maar hy het die afwesigheid van die Heilige Gees—God se teenwoordigheid—in sy lewe al hoe skerper begin voel. Deur ondervinding het hy geweet hoe dit was om dag vir dag die vertroosting, leiding en vertroue wat uit die Gees gebore is, te hê, en hy het dit gemis. Uiteindelik het hy gedoen wat nodig was om hom te bekeer en weer te kwalifiseer vir die doop van water en van die Gees.

Dit lyk asof daar geen einde is aan die verskillende bronne waarna mense kyk vir betekenis, geluk en hulp nie. Die meeste “kyk verby die doel.” Maar ons hoef nie “kinders te wees wat heen en weer geslinger word en met elke wind van leerstellings [of mode] rondgevoer word nie.” As ons opsien na God, kan ons vrede in moeilikheid vind, en ons geloof kan aanhou groei, selfs in tye van twyfel en geestelike uitdagings. Ons kan krag ontvang in die aangesig van teenstand en isolasie. Ons kan die ideaal met die huidige werklikheid versoen. Daar is waarlik geen ander weg as wat God self bepaal het nie: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.”

Om na God op te sien beteken dat Hy nie net een van ons prioriteite is nie; dit beteken eerder dat Hy ons een hoogste prioriteit is. Ek herinner weer aan daardie verskriklike ongeluk in Lesotho verlede Junie. Vanuit haar hospitaalbed het een van die Jongdames-leiers wat oorleef het, wat nie in God geglo het voordat sy by die Kerk aangesluit het nie, gesê dat haar doel nou is om uit te vind waarom haar lewe gespaar is. “Om God voortdurend te dien, is hoe ek tot ʼn antwoord sal kom, indien ek tot ʼn antwoord kom,” het sy gesê. “Ek het vroeër gedink dat ek God liefhet, maar nou is ek regtig, regtig, regtig, regtig, regtig lief vir Hom. Nou is Hy die [nommer een] prioriteit in my lewe.”

Ek getuig van die Vader, Seun en Heilige Gees, wat in volmaakte eenheid van woord, gedagte, doel en daad die een God is, na wie ons kan opsien vir alle goeie dinge. Ek getuig van die Versoening van Jesus Christus, vanwaar die krag kom om hierdie wonderlike belofte te vervul: “Vertrou op My en volhard tot die einde, en julle sal lewe; want aan hom wat volhard tot die einde sal Ek die ewige lewe gee.” In die Naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. Sien Ryan Jensen, “Survivors of Deadly Bus Crash in Lesotho Share Grief—and Faith—in Wake of Tragedy,” Church News, 18 Julie 2025, thechurchnews.com; Ryan Jensen, “‘God Is Still God’—Remembering the Lives Lost in Lesotho Bus Accident,” Church News, 19 Julie 2025, thechurchnews.com.

  2. Alma 37:47.

  3. Alma 37:44.

  4. Alma 37:46; klem bygevoeg.

  5. Sien Númeri 21:5–6.

  6. Númeri 21:8.

  7. Sien Alma 33:19.

  8. Alma 33:20.

  9. Alma 33:21–22. Alma se kleinseun Nefi het in die verslag oor die Saligmaker bygevoeg: “En soveel as wat daardie slang sou aanskou, sou lewe, net so, soveel as wat die Seun van God sou aanskou in geloof, omdat hulle ʼn verslae gees het, mag lewe, en wel tot daardie lewe wat ewig is” (Helaman 8:15).

  10. Russell M. Nelson, “Oorwin die Wêreld en Vind Rus,” Liahona, Nov. 2022, 96.

  11. 2 Nefi 1:20.

  12. Romeine 8:28.

  13. Ons kan rondom ons die vrugte sien deur na God op te sien en sy Gees met ons te hê. Navorsing het byvoorbeeld bevind dat “geestelike ontwikkeling geassosieer word met beskerming teen depressie en dwelmmisbruik, en met die voorbereiding van jong volwassenes vir gesonder verhoudings, meer doelgerigte werk en groter emosionele veerkragtigheid” (Cornelia Powers, “The New Spiritual Leader on Campus,” Atlantic, 18 Mei 2025, theatlantic.com).

    Vlakke van chroniese eensaamheid, emosionele isolasie en angs in die algemene bevolking, kontrasteer met oor die algemeen gesonder lewenstyle, fisiese en geestelike lewenskragtigheid, hoër vlakke van opvoeding en positiewe vooruitsigte gebaseer op geloof onder die Heiliges van die Laaste Dae. Dit is nie dat ons as ʼn volk nooit die uitdagings ervaar wat algemeen in die wêreld bestaan nie. Dit is eerder dat ons kan oorwin wanneer ons na Jesus Christus opsien.

  14. Sien Alma 37:35–37.

  15. Sien Leer en Verbonde 68:4.

  16. Leer en Verbonde 6:36.

  17. For the Strength of Youth: A Guide for Making Choices (2022), 24, 25.

  18. Russell M. Nelson, “Dink Selestiaal!,” Liahona, Nov. 2023, 118; beklemtoning in oorspronklike.

  19. Sien Johannes 1:9; Moroni 7:16; Leer en Verbonde 84:45–46; 93:2.

  20. Jakob 4:14.

  21. Efésiёrs 4:14.

  22. Jesaja 45:22.

  23. Mapule Joyce Takane, in Jensen, “Survivors of Deadly Bus Crash in Lesotho Share Grief—and Faith—in Wake of Tragedy,” thechurchnews.com.

  24. Sien 1 Johannes 5:7; 3 Nefi 11:36; Leer en Verbonde 20:28; Gids tot die Skrifture, “God, Godheid,” Evangeliese Biblioteek.

  25. 3 Nefi 15:9.