Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2025
Selfvertroue in die Teenwoordigheid van God
Wanneer ons ywerig daarna streef om naasteliefde en deugsaamheid ons lewens te laat vul, sal ons vertroue om God te nader, toeneem.
My liewe broers en susters, ek is dankbaar om vandag met julle te praat tydens hierdie belangrike algemene konferensie. My oë word steeds ouer. Dankie vir julle begrip terwyl ek my boodskap oordra.
Ons leef in ʼn dag van groot momentum in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae. Ek is gevul met vreugde terwyl ek vordering op soveel gebiede sien.
Ek is veral geïnspireer deur ons jeug. Hulle lewer diens in groot getalle. Hulle soek na hul voorouers en voer ordinansies in die tempel uit. Ons jongmans en -dames dien in rekordgetalle aansoeke vir sendingdiens in. Die opkomende geslag is besig om op te staan as getroue volgelinge van Jesus Christus.
Ek het onlangs ʼn nuwe agterkleindogter ontmoet. Wanneer ek nadink oor die uitdagings wat sy in haar lewe sal ervaar, voel ek ʼn groot begeerte om haar te help om geloof in Jesus Christus op te bou. Om sy evangelie uit te leef is noodsaaklik vir haar toekomstige geluk.
Sy sal, soos elkeen van ons, uitdagings in die gesig staar. Ons almal sal siekte, teleurstelling, versoeking en verlies ervaar. Hierdie uitdagings kan ons selfvertroue skaad. Dissipels van Jesus Christus het egter toegang tot ʼn ander soort vertroue.
Wanneer ons verbonde met God sluit en onderhou, kan ons vertroue hê wat uit die Gees gebore is. Die Here het vir die profeet Joseph Smith gesê dat ons selfvertroue “sal toeneem in die teenwoordigheid van God.” Stel jou voor hoe vertroostend dit is om vertroue in die teenwoordigheid van God te hê!
Wanneer ek praat van vertroue voor God, verwys ek na vertroue om God nou te nader! Ek verwys na gebed met vertroue dat Hemelse Vader ons hoor, dat Hy ons behoeftes beter verstaan as ons. Ek verwys na die vertroue dat Hy ons meer liefhet as wat ons kan begryp, dat Hy engele stuur om by ons te wees en by diegene vir wie ons lief is. Ek verwys na die vertroue dat Hy smag om elkeen van ons te help om ons hoogste potensiaal te bereik.
Nou, hoe verkry ons sulke vertroue? Die Here beantwoord hierdie vraag met hierdie woorde: “Laat jou binneste … gevul wees met naasteliefde teenoor alle mense, … en laat deugsaamheid jou gedagtes voortdurend versier; dan sal jou selfvertroue toeneem in die teenwoordigheid van God.”
Daar is die sleutel! In die Here se eie woorde, naasteliefde en deugsaamheid maak die weg oop om vertroue voor God te hê! Broers en susters, ons kan dit doen! Ons selfvertroue kan werklik sterk word in die teenwoordigheid van God, op hierdie oomblik!
Kom ons kyk na beide naasteliefde en deugsaamheid.
Eerstens, naasteliefde. Twee jaar gelede het ek ons as verbondsvolgelinge van Jesus Christus gevra om vredemakers te wees. Ek herhaal wat ek toe gesê het: “Woede oorreed nooit nie. Vyandigheid bou niemand op nie. Twis lei nooit tot geïnspireerde oplossings nie.”
Ware naasteliefde teenoor alle mense is die kenmerk van vredemakers! Dit is noodsaaklik dat ons naasteliefde in ons diskoers het, beide publiek en privaat. Ek dank diegene van julle wat my vorige raad ter harte geneem het Maar ons kan nog steeds beter doen.
Die huidige vyandigheid in openbare dialoog en op sosiale media is kommerwekkend. Haatlike woorde is dodelike wapens. Twis verhoed dat die Heilige Gees ons voortdurende metgesel is.
As volgelinge van Jesus Christus moet ons die voortou neem as vredemakers. Wanneer naasteliefde deel van ons natuur word, sal ons die impuls verloor om ander te verneder. Ons sal ophou om ander te oordeel. Ons sal naasteliefde hê vir diegene uit alle vlakke van die samelewing. Naasteliefde teenoor alle mense is noodsaaklik vir ons vooruitgang. Naasteliefde is die grondslag van ʼn goddelike karakter.
Laat ons by ons Hemelse Vader pleit om ons harte te vul met groter naasteliefde—veral vir diegene wat moeilik is om lief te hê—want naasteliefde is ʼn gawe van ons Hemelse Vader vir ware volgelinge van Jesus Christus. Die Saligmaker is die Vredevors. Ons moet sy instrumente vir vrede wees.
Kom ons praat nou oor deugsaamheid. Die Here sê vir ons om ons gedagtes voortdurend met deugsaamheid te versier. Stel jou voor watter hupstoot jy sal kry vir enige positiewe gedagte wanneer jy dit met deugsaamheid verbeter. Deugsaamheid maak alles beter en gelukkiger! Aan die ander kant, stel jou voor wat sal gebeur wanneer jy deugsaamheid by ʼn onrein gedagte, ʼn wrede gedagte of ʼn neerdrukkende gedagte voeg. Deugsaamheid sal daardie gedagtes verdryf. Deugsaamheid sal jou bevry van angstige, lastige gedagtes.
Broers en susters, namate die wêreld meer goddeloos word, moet ons al hoe meer rein word. Ons gedagtes, woorde en dade moet onfeilbaar deugsaam wees en gevul wees met die suiwere liefde van Jesus Christus teenoor alle mense. Die groot geleentheid wat voor ons lê, is om die mense te word wat God wil hê ons moet wees.
Gereelde aanbidding in die huis van die Here verhoog ons vermoë tot beide deugsaamheid en naasteliefde. Tyd in die tempel verhoog dus ons selfvertroue voor die Here. Meer tyd in die tempel sal ons help om voor te berei vir die wederkoms van ons Saligmaker, Jesus Christus. Ons weet nie die dag of die uur van sy koms nie. Maar ek weet wel dat die Here my inspireer om ons aan te spoor om gereed te maak vir daardie “groot en vreeslike dag.”
Wanneer ons ywerig daarna streef om naasteliefde en deugsaamheid ons lewens te laat vul, sal ons vertroue om God te nader, toeneem. Ek nooi julle uit om doelbewuste stappe te neem om in jul vertroue voor die Here te groei. Dan, wanneer ons met toenemende vertroue na ons Hemelse Vader gaan, sal ons met meer vreugde vervul word, en jul geloof in Jesus Christus sal toeneem. Ons sal geestelike krag begin ervaar wat ons grootste verwagtinge oortref.
Ons is dankbaar teenoor die Here vir die versnelling van tempelbou die afgelope jare. Onder sy leiding kondig ons vandag planne aan om ʼn tempel op elk van hierdie 15 plekke te bou:
-
Reynosa, Mexiko
-
Chorillos, Peru
-
Rivera, Uruguay
-
Campo Grande, Brasilië
-
Porto, Portugal
-
Uyo, Nigerië
-
San Jose del Monte, Filippyne
-
Nouméa, Nieu-Kalidonië
-
Liverpool, Australië
-
Caldwell, Idaho
-
Flagstaff, Arizona
-
Rapid City, South Dakota
-
Greenville, South Carolina
-
Norfolk, Virginië
-
Spanish Fork, Utah
Ek getuig dat Jesus Christus, die Verlosser van Israel, hierdie, sy Kerk lei. Hy berei voor om weer te kom. Mag ons soortgelyk voorberei om Hom te ontvang. Hiervoor bid ek in die Naam van Jesus Christus, amen.
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, May 2025. Afrikaans. 19602