2025
“Kom Nader na My”
Mei 2025


Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2025

“Kom Nader na My”

Jesus Christus het elkeen van ons lief. Hy bied ons die geleentheid om nader aan Hom te kom.

My liewe broers en susters, dit is vir my ʼn vreugde om saam met julle te wees in hierdie algemene konferensie van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae. Dit is sy Kerk. Ons is byeen in geboue en huise regoor die wêreld in sy Naam.

Ons neem sy naam op ons wanneer ons sy koninkryk deur ʼn verbond binnegaan. Hy is die herrese en verheerlikte Seun van God. Ons is sterflik, onderhewig aan die dood en sonde. Tog, in sy liefde vir elkeen van ons, nooi die Saligmaker ons uit om nader aan Hom te kom.

Die Saligmaker wat uit die graf uitkom.

Hier is sy uitnodiging aan ons: “Kom nader na my en Ek sal nader aan julle kom; soek my ywerig en julle sal My vind; vra, en julle sal ontvang; klop en dit sal vir julle oopgemaak word.”

Daar is tye wanneer ons naby die Saligmaker Jesus Christus voel. En tog, soms tydens ons sterflike beproewinge, voel ons ʼn bietjie afstand van Hom af en wens ons vir ʼn versekering dat Hy weet wat in ons harte is en ons as individue liefhet.

Die Saligmaker se uitnodiging sluit die manier in om daardie versekering te voel. Kom nader aan Hom deur Hom altyd te onthou. Soek Hom ywerig deur skriftuurstudie. Vra deur opregte gebed aan Hemelse Vader om nader aan sy geliefde Seun te voel.

Daar is ʼn eenvoudige manier om daaroor te dink. Dit is wat jy sou doen as jy vir ʼn tyd lank van dierbare vriende geskei was. Jy sal ʼn manier vind om met hulle te kommunikeer, jy sal enige boodskap wat jy van hulle ontvang het, koester, en jy sal alles in jou vermoë doen om hulle te help.

Hoe meer dit gebeur het, hoe langer dit geduur het, hoe dieper sou die band van liefde versterk word, en jy sal voel hoe jy al hoe nader kom. As baie tyd verbygaan sonder die gekoesterde kommunikasie en die geleentheid om mekaar te help, sal die band verswak.

Jesus Christus het elkeen van ons lief. Hy bied daardie geleentheid om nader aan Hom te kom. Soos met ʼn liefdevolle vriend, sal jy dit op dieselfde manier doen, deur gebed met Hemelse Vader in die Naam van Jesus Christus te kommunikeer, te luister na gekoesterde leiding van die Heilige Gees, en dan ander vir die Saligmaker met blydskap te dien. Jy sal binnekort daardie seëning voel om nader aan Hom te kom.

Ek het in my jeug die vreugde ervaar om nader aan die Saligmaker te kom—en van hom om nader aan my te kom—deur eenvoudige dade van gehoorsaamheid aan die gebooie. In my jong dae het ons die nagmaal gedurende ʼn aanddiens ontvang. Ek kan nog een spesifieke nag onthou, meer as 75 jaar gelede, toe dit buite donker en koud was. Ek onthou ʼn gevoel van lig en warmte toe ek besef het dat ek die gebod onderhou het om saam met die Heiliges bymekaar te kom om aan die nagmaal deel te neem, en ʼn verbond met ons Hemelse Vader gesluit het om altyd sy Seun te onthou en sy gebooie te onderhou.

Aan die einde van die diens daardie aand het ons die gesang “Abide with Me; ’Tis Eventide,” met die onvergeetlike woorde “O Savior, stay this night with me.”

Hierdie woorde het vir my ʼn oorweldigende gevoel van die Gees gebring, selfs as ʼn jong seun. Ek het daardie aand die Saligmaker se liefde en nabyheid deur die vertroosting van die Heilige Gees gevoel.

Jare later wou ek dieselfde gevoel van die Saligmaker se liefde en die nabyheid aan die Here wat ek tydens daardie nagmaaldiens in my jeug gevoel het, weer aanwakker. Daarom het ek nog ʼn eenvoudige gebod onderhou: Ek het die skrifture deursoek.

Ek het in die boek Lukas gelees van die derde dag ná sy kruisiging en begrafnis, toe getroue dienaars uit liefde vir die Saligmaker gekom het om sy liggaam te salf. Toe hulle daar aankom, het hulle gevind dat die klip van die graf af weggerol is en gesien dat sy liggaam nie daar was nie.

ʼn Engel buite Christus se graf.

Twee engele het daar gestaan en gevra waarom hulle bevrees was:

“Waarom soek julle die Lewende by die dooies?”

“Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:

“Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.”

Christus en dissipels op die pad na Emmaüs.

Daardie aand teen skemer het twee dissipels van Jerusalem af op die pad na Emmaüs gestap, en die herrese Here het aan hulle verskyn en saam met hulle gestap.

Die boek Lukas laat ons toe om saam met hulle daardie aand te stap:

“En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam.

“Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.

“En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?

“En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?

Hulle het Hom van hulle hartseer vertel dat Jesus gesterf het, terwyl hulle vertrou het dat Hy die Verlosser van Israel sou wees.

Daar moes liefde in die herrese Heer se stem gewees het toe Hy met hierdie twee bedroefde en treurende dissipels gepraat het.

Terwyl ek aangehou lees het, het hierdie woorde my hart warm laat voel, net soos ek gevoel het toe ek ʼn klein seuntjie was:

“Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan;

“maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; “en Hy het ingegaan om by hulle te bly.”

Christus sit saam met die dissipels.

Die Saligmaker het daardie nag die uitnodiging aanvaar om die huis van sy dissipels binne te gaan. Hy het saam met hulle geёet. Hy het brood geneem, dit geseёn, dit gebreek, en dit aan hulle gegee. Hulle oё is geopen en hulle het Hom herken. En toe het Hy uit hulle gesig verdwyn.

Lukas het die gevoelens van daardie geseёnde dissipels neergeskryf: “En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?”

Die twee dissipels het hulle toe na Jerusalem gehaas om die elf apostels te vertel wat gebeur het. Terwyl hulle van hul ondervinding vertel het, het die Saligmaker weer verskyn.

Hy het in hulle midde gestaan en “sê vir hulle: Vrede vir julle!” Hy het toe die profesieë van sy sending opgesom om versoening te doen vir die sondes van ál sy Vader se kinders en om die bande van die dood te verbreek.

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,

“En bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.

“En julle is getuies van hierdie dinge.”

Alma onderrig by die Waters van Mormon.

Net soos sy geliefde dissipels, is elke kind van Hemelse Vader wat gekies het om deur die poort van die doop in te gaan, onder ʼn verbond om ʼn getuie van die Saligmaker te wees en om te sorg vir behoeftiges regdeur ons sterflike lewens. Hierdie verbintenis is vir ons duidelik gemaak deur die groot Boek van Mormon-profeet Alma eeue gelede by die Waters van Mormon:

“Aangesien julle begerig is om in die kudde van God te kom, en om sy volk genoem te word, en gewillig is om mekaar se laste te dra, sodat hulle lig mag wees;

“Ja, en gewillig is om te treur met diegene wat treur; ja, en diegene te troos wat vertroosting nodig het, en om te staan as getuies van God te alle tye en in alle dinge, en op alle plekke … , selfs tot die dood toe, sodat julle verlos mag word deur God, … dat julle die ewige lewe mag hê.”

Wanneer julle getrou is aan hierdie beloftes, sal julle vind dat die Here sy belofte nakom om een met julle te wees in jul diens, wat jul laste lig maak. Julle sal die Saligmaker leer ken, en mettertyd sal julle soos Hy word en “in Hom volmaak word.” Deur ander vir die Saligmaker te help, sal julle vind dat julle nader aan Hom kom.

Baie van julle het dalk geliefdes wat van die pad na die ewige lewe afgedwaal het. Julle wonder wat julle meer kan doen om hulle terug te bring. Julle kan op die Here staatmaak dat Hy nader aan hulle sal kom, soos wat julle Hom in geloof dien.

Julle onthou dalk die Here se belofte aan Joseph Smith en Sidney Rigdon toe hulle weg was van hulle gesinne in sy diens: “My vriende Sidney en Joseph, julle gesinne is wel; hulle is in my hande, en Ek sal met hulle doen soos Ek goeddink; want in My is daar alle mag.”

Wanneer jy die wonde van behoeftiges verbind, sal die Here se krag jou onderskraag. Sy arms sal saam met joune uitgestrek wees om die kinders van ons Hemelse Vader by te staan en te seën.

Elke verbondsdienaar van Jesus Christus sal sy leiding van die Gees ontvang terwyl hulle ander vir Hom seën en dien. Dan sal hulle die Saligmaker se liefde voel en vreugde vind om nader aan Hom getrek te word.

Ek is ʼn getuie van die Opstanding van die Here so seker asof ek daar was saam met die twee dissipels in die huis op die pad na Émmaüs. Ek weet dat Hy leef.

Hierdie is sy ware Kerk—die Kerk van Jesus Christus. Ons sal op die Oordeelsdag voor die Saligmaker staan, van aangesig tot aangesig. Dit sal ʼn tyd van groot vreugde wees vir diegene in hierdie lewe wat nader aan Hom gekom het in sy diens en gretig kan uitsien om sy woorde te hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.”

Ek getuig as ʼn getuie van die opgestane Saligmaker en ons Verlosser, in die Naam van Jesus Christus, amen.