Liahona
Die Vreugdevolle Verbondspad
Februarie 2026 Liahona


“Die Vreugdevolle Verbondspad,” Liahona, Feb. 2026.

Maandelikse Liahona-boodskap, Februarie 2026

Die Vreugdevolle Verbondspad

Die wonder en grootsheid van familielede wat saamgebind is in die teenwoordigheid van die Vader en die Seun bring weergalose ontsag en vreugde in my siel en vul my met ʼn gees van dankbaarheid.

Ouderling Patrick Kearon en sy vrou, Jennifer

Ouderling Patrick Kearon en sy vrou, Jennifer

Toe Israel en Elizabeth Haven Barlow, Nauvoo, Illinois verlaat het vir die Salt Lake-vallei in1848, het hulle ʼn babaseuntjie in ʼn klein begrafplasie in Nauvoo agterlaat. Klein James Nathaniel Barlow, hul eerste kind, is kort na sy geboorte in Mei 1841 oorlede.

Met hul vertrek na die Salt Lake-vallei het Israel en Elizabeth waarskynlik nooit verwag om weer hul seun se graf te sien nie. Maar toe Israel ʼn paar jaar later op ʼn sending na Engeland geroep is, het hy deur Nauvoo gegaan terwyl hy ooswaarts gereis het. Op Elizabeth se versoek het hy gestop om hul seun se graf op te spoor en sy oorskot na die hoofbegraafplaas, oos van die dorp, te verskuif.

Na ʼn dag van vrugtelose soektog het Israel hulp van die plaaslike opsigter gesoek. Die volgende dag het hulle die graf langs James se niggie Mary gevind. Ongelukkig was die doodskiste verrot en stukkend. In ʼn brief aan sy vrou het Israel geskryf: “Ek het dus weggedraai en besluit dat ek hulle daar sou los tot op ʼn later stadium.”

Hy het nie ver van die graf geloop nie toe hy ʼn stem hoor. Terwyl hy die ervaring herroep, het hy geskryf: “Dit was nie hoorbaar nie, maar tog só duidelik in my gedagte dat ek dit nie kon ontken nie: ‘Pappa, moenie my hier los nie.’” Israel het na die graf teruggekeer en besluit om sy seuntjie tóg te verwyder. “Ek het ʼn baie besonderse kalmte en gemoedsrus gevoel wat ek nie vantevore gevoel het nie. … Ek moet sê dat ek nog nooit meer bewus was van enige plig wat in my lewe verrig is nie.”

Op 2 September 1853 het Israel Barlow en die opsigter die liggame van James en Mary na Nauvoo se hoofbegrafplaas verskuif en die plek met “klippe aan die kop en voet van die grafte” gemerk.

Israel het vir Elizabeth gesê dat terwyl hy by die graf vertoef het: “Ek het ʼn begeerte gevoel om myself en alles wat ek besit, in die hande van die Here toe te wy, sodat ek waardig geag kan word om saam met [James] in die oggend van die Eerste Opstanding te voorskyn te kom.”

Israel se toewyding aan die evangelie van Jesus Christus, tesame met die eerbiediging van heilige verbonde, stel Christus in staat om die ewige lewe—die grootste van alle seëninge—moontlik te maak vir hom, sy voorouers en sy nageslag.

Dieselfde is waar vir almal van ons.

nagmaalskinkborde

Foto deur Jerry Garns, mag slegs vir Kerkgebruik gekopieer word

Heilige Beloftes

Ons Hemelse Vader en sy Seun, Jesus Christus, het elkeen van ons lief bó enigiets wat ons ons kan voorstel. Nêrens word Hulle liefde meer geopenbaar as deur die beloofde seëninge wat verband hou met die verbonde wat aan ons aangebied word by die doop en in die huis van die Here nie.

President Russell M. Nelson (1924–2025) het onderrig: “Een van die belangrikste konsepte van geopenbaarde godsdiens is dié van ʼn heilige verbond.” “In regstaal beteken ʼn verbond gewoonlik ʼn ooreenkoms tussen twee of meer partye. Maar in ʼn godsdienstige konteks is ʼn verbond baie meer betekenisvol. Dit is ʼn heilige belofte met God.”

Elke heilige belofte wat ons maak en onderhou, seën ons. Hemelse Vader en ons Saligmaker, Jesus Christus wil ons nader aan Hulle bring. Hulle wil ons help om te leer en te groei in geloof en begrip. Hulle wil ons met hemelse krag begiftig. Hulle wil hê ons moet genesing en vrede vind in ʼn wêreld waar sulke seëninge ontwykend bly. Hulle wil hê ons moet vreugde in hierdie lewe en in die lewe hierna ervaar. Uit hierdie volmaakte liefde bied Hulle ons die geleentheid om ʼn verbondsband met Hulle te sluit. Ons het die seëning om ons weekliks tydens die nagmaaldiens weer aan daardie verbonde toe te wy.

Ons neem deel aan die nagmaal in ʼn gees van dankbaarheid omdat ons die vreugdevolle seëning het om die Naam van Jesus Christus op onsself te neem, Hom en sy liefde vir ons te onthou wat getoon word deur die gawe van sy Versoening—dat Hy gely, gebloei en vir ons gesterf het. Die nagmaal seën ons ook met ʼn weeklikse geleentheid om ons bereidwilligheid te toon om sy gebooie te onderhou, ons verbonde te hernu en ʼn nuwe verbond te sluit (sien Leer en Verbonde 20:77, 79).

“Ek hoor dikwels die uitdrukking dat ons die nagmaal gebruik om verbonde wat met die doop gesluit is, te hernu. Alhoewel dit waar is, is dit veel meer as dit,” het President Nelson gesê. “Ek het ʼn nuwe verbond gesluit. Jy het nuwe verbonde gesluit. … Nou, in ruil daarvoor maak [die Here] die verklaring dat ons altyd sy Gees met ons sal hê. Wat ʼn seëning!”

Wanneer ons bekeer en die nagmaal gebruik met ʼn suiwer hart, ontvang ons die Heilige Gees en word “gereinig van sonde asof ons weer gedoop is. Dit is die hoop en barmhartigheid wat Jesus aan elkeen van ons bied.”

Wat ʼn vreugde om te bekeer en vergewe te word deur Christus se verlossende liefde!

Nauvoo Illinois-tempel

Foto van Nauvoo Illinois-tempel deur Jennifer Rose Maddy

Sy Huis van Vreugde

Nadat hy President van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae geword het, het President Nelson dikwels oor die verbondspad gepraat, beginnende met sy eerste openbare boodskap as President van die Kerk. Ons betree daardie pad deur “bekering en doop deur water” (2 Nefi 31:17), hy het by ʼn latere geleentheid gesê, en “dan betree ons dit meer volledig in die tempel.”

Net soos die gebruik van die nagmaal ons aan ons verbonde en hulle gepaardgaande seëninge herinner, so ook is die doen van plaasvervangende-werk in die tempel. Terwyl ons ordinansies deur middel van plaasvervanging uitvoer vir diegene wat gesterf het, onthou ons die heilige beloftes wat ons gemaak het en die beloofde seëninge wat ons sal ontvang.

Deur die verbondspad word ons erfgename van al die seëninge wat aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag belowe is. Ten spyte van daardie beloofde seëninge, het Abraham, Isak en Jakob nie maklike lewens gelei nie, en ons ook nie. Soos hulle, staar ons teëspoed, tugtiging en verlies in die gesig terwyl ons “beproef word in alle dinge” (Leer en Verbonde 136:31; sien ook 101:4–5). Maar soos profete en regverdige Heiliges van ouds, weet ons op wie ons kan vertrou (sien 2 Nefi 4:19).

Ons sterflike lewe is maar ʼn oomblik in ons bestaan, maar daardie oomblik—soms baie moeilik—is van ewige belang. Ja, ons Hemelse Vader wil hê dat ons moet leer en groei. En ja, daardie groei bring by tye teleurstelling en lyding. Maar Hy wil hê dat ons lewens mooi en hoopvol moet wees. Vir daardie doel en om ons reis terug na Hom te vergemaklik, het Hy ʼn Saligmaker voorsien, wat “die borg” is van ons verbonde met sy Vader. Deur die Versoening van Jesus Christus, vervul die Vader die beloftes wat aan sy kinders in die tempel gemaak is.

Deur sy liefde en soenoffer het ons Saligmaker alles wat ons in die lewe sal teëkom, hanteer en genees. En as gevolg van sy heilige huis—sy huis van vreugde—sal alles wel wees ten spyte van teëspoed. Die balsem van verbondsonderhouding vee smart, pyn, droefheid en teleurstelling weg. Ons hoef nie bekommerd te wees of te vrees nie. Ons kan eerder verheug wees dat die prys van ons verlossing betaal is (sien 1 Korinthiërs 6:20) en dat die verbondspad na die ewige lewe gelê is.

Die verbondspad is waarlik ʼn pad van verlossende liefde. Soos ons die verbonde wat ons in die tempel sluit eerbiedig, ontvang ons seëninge van groter krag, groter liefde, groter barmhartigheid, groter begrip en groter hoop. Die wonder en grootsheid van tempelverseëlings—van familielede wat vir ewig saamgebind is in liefde—bring weergalose ontsag en vreugde in my siel en vul my met ʼn gees van dankbaarheid.

“Wanneer enige soort omwenteling in jou lewe plaasvind, is die veiligste plek om geestelik te wees, om binne jou tempelverbonde te leef!” het President Nelson gesê. Ek ken uit my eie soet en soms bitter sterflike ervaring die waarheid van daardie woorde.

Illustrasie van ʼn paartjie wat ʼn baba vashou

James Nathaniel Barlow, die eerste kind van Israel en Elizabeth Barlow, het kort ná sy geboorte in Mei 1841 gesterf. Jare later was hy deur plaasvervanging aan sy ouers in die Logan Utah-tempel verseël.

Illustrasie deur Allen Garns

Versamel Hulle Huis Toe

Nadat Israel Barlow vir die laaste keer afskeid van sy seuntjie geneem het, het hy aan sy vrou geskryf: “Die gedagtes om myself ver weg te neem, om nooit weer in die lewe na [James se] graf terug te keer nie, het my hart gebreek en laat trane stort op sy graf.”

Ek verbeel my dat meer trane—hierdie keer trane van vreugde—op 4 Desember 1889 gestort is. Op daardie dag was klein James Nathaniel Barlow aan sy ouers in die Logan Utah-tempel verseël. Teen daardie tyd is Israel al oorlede, dus het ander as plaasvervangers vir hom en James ingestaan.

Sister Kearon en ek het ʼn besonderse sensitiwiteit en groot deernis vir Israel en Elizabeth. Ons eerste kind, ʼn seun genaamd Sean het tydens ʼn hartoperasie gesterf toe hy net drie weke oud was. Dit was ʼn geweldige verlies vir ons. Destyds het ons gewonder of ons kon oorleef. Ons het hom in ʼn pynlik klein graffie in Engeland begrawe. Vyftien jaar later is ons familie gevra om van ons huis in die Verenigde Koninkryk te trek om voltyds in die Kerk te dien en ons het daardie klein graffie agtergelaat.

Ons het nie ons baba op die trek weswaarts verloor nie en ons het nie die onbegryplike ontberinge van die Barlows verduur nie, maar ons het ʼn bietjie van ʼn begrip van wat hulle deurgemaak het. Ons babaseuntjie se graf is baie ver weg, nogtans het ons soos die Barlows blywende geloof in die Opstanding van Jesus Christus en die ewige aard van ons familie deur die heilige verseëlingsverbond.

Ons almal het voorouers en ander geliefdes anderkant die graf wat vir ons sê: “Moenie my hier los nie.” As gevolg van tempelverbonde hoef niemand agtergelaat te word nie. Ons roeping is om hulle lief te hê, hulle te dien en om hulle te help versamel om huis toe te bring.

Ons Hemelse Vader is lief vir ons, vir jou en my. Hy het vir ons tempels gegee sodat “wat [ons] ook al bind op die aarde, gebonde [sal] wees in die hemel” (Leer en Verbonde 128:8; sien ook Matthéüs 18:18). Hy het sy Seun gestuur om die bande van die dood te breek en die weg te baan vir ewige familieherenigings.

Dit is hoekom ons ordinansies het. Dit is hoekom ons verbonde sluit. Dit is hoekom ons tempels bou. Dit is hoekom ons onsself toewy aan God se werk en heerlikheid (sien Moses 1:39). En dit is hoekom ons trane van vreugde stort, wetende dat ʼn ewige hereniging op ons en ons geliefdes wag in die teenwoordigheid van die Vader en die Seun.

Mag ons vreugde en vrede vind terwyl ons ons verbonde onderhou en by die Here aansluit in sy glorieryke reddingswerk.

Notas

  1. Sien Ora H. Barlow, The Israel Barlow Story and Mormon Mores (1968), 306–8; spelling en leestekens gemoderniseer; sien ook Brent A. Barlow, “Daddy, Do Not Leave Me Here,” Ensign, Julie 2009, 34–36.

  2. Russell M. Nelson, “Covenants,” Liahona, Nov. 2011, 86.

  3. Sien “I Stand All Amazed,” Gesange, no. 193.

  4. Russell M. Nelson, in Dale G. Renlund, “Unwavering Commitment to Jesus Christ,” Liahona, Nov. 2019, 25, nota 18.

  5. Jesus Christus het Ons Gevra om die Nagmaal te Gebruik,” Liahona, Maart 2021, 7.

  6. Sien Russell M. Nelson, “Soos Ons Saam Voorwaarts Gaan,” Liahona, Apr. 2018, 7.

  7. Russell M. Nelson, “Die Ewigdurende Verbond,” Liahona, Okt. 2022, 6.

  8. Vir ʼn lys van daardie beloofde seëninge, sien Russell M. Nelson, “Covenants,” Liahona, Nov. 2011, 87.

  9. Sien Russell M. Nelson, “The Everlasting Covenant,” 10.

  10. Sien Russell M. Nelson, “The Everlasting Covenant,” 7.

  11. Russell M. Nelson, “The Temple and Your Spiritual Foundation,” Liahona, Nov. 2021, 96.

  12. Israel Barlow, in Ora H. Barlow, The Israel Barlow Story, 308; spelling en leestekens gemoderniseer.

  13. Verseëlingsdatum voorsien deur die Kerkgeskiedenis-biblioteek.