“Die Ewigdurende Verbond,” Liahona, Okt. 2022.
Maandelikse Liahona-boodskap, Oktober 2022
Die Ewigdurende Verbond
Almal wat ʼn verbond met God gesluit het, het toegang tot ʼn spesiale soort liefde en genade.
The Lord Jesus Christ [Die Here Jesus Christus], deur Del Parson
In hierdie wêreld wat deur oorloë en gerugte van oorloë verskeur word, is die behoefte aan waarheid, lig en die suiwer liefde van Jesus Christus groter as ooit tevore. Die evangelie van Christus is glorieryk, en ons is geseënd om dit te bestudeer en volgens sy voorskrifte te lewe. Ons verheug ons in ons geleenthede om dit te deel—om te getuig van die waarhede waar ons ook al is.
Ek het dikwels gepraat oor die belangrikheid van die Abrahamitiese verbond en die versameling van Israel. Wanneer ons die evangelie omhels en gedoop word, neem ons die heilige naam van Jesus Christus op onsself. Die doop is die poort wat daartoe lei om mede-erfgename te word van al die beloftes wat die Here in die antieke tyd aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag gegee het.1
“Die nuwe en ewigdurende verbond”2 (Leer en Verbonde 132:6) en die Abrahamitiese verbond is in wese dieselfde—twee maniere om die verbond wat God op verskillende tye met sterflike mans en vroue gesluit het, te fraseer.
Die byvoeglike naamwoord ewigdurende dui daarop dat hierdie verbond bestaan het selfs voor die grondlegging van die wêreld! Die plan wat in die Groot Raad in die Hemel uiteengesit is, het die ontnugterende besef ingesluit dat ons almal van God se teenwoordigheid afgesny sou word. God het egter belowe dat Hy ʼn Saligmaker sou voorsien wat die gevolge van die Sondeval sou oorkom. God het vir Adam ná sy doop gesê:
“En jy is na die orde van Hom wat sonder begin van dae of einde van jare is, van alle ewigheid tot alle ewigheid.
“Kyk, jy is een in My, ʼn seun van God; en aldus kan almal my seuns word” (Moses 6:67–68).
Adam en Eva het die ordinansie van die doop aanvaar en die proses begin om een met God te wees. Hulle het die verbondspad betree.
Wanneer ek en jy ook daardie pad betree, het ons ʼn nuwe manier van lewe. Ons skep sodoende ʼn verhouding met God wat Hom toelaat om ons te seën en te verander. Die verbondspad lei ons terug na Hom toe. As ons toelaat dat God in ons lewens seëvier, sal daardie verbond ons nader en nader na Hom lei. Alle verbonde is bedoel om bindend te wees. Hulle skep ʼn verhouding met ewige bande.
ʼn Spesiale Liefde en Barmhartigheid
Sodra ons ʼn verbond met God sluit, verlaat ons neutrale grond vir ewig. God sal nie sy verhouding laat vaar met diegene wat so ʼn band met Hom gesmee het nie. Trouens, almal wat ʼn verbond met God gesluit het, het toegang tot ʼn spesiale soort liefde en barmhartigheid. In die Hebreeuse taal word daardie verbondsliefde hesed genoem.3
Daar is geen voldoende Engelse ekwivalent vir hesed nie. Vertalers van die King James-weergawe van die Bybel het ongetwyfeld gesukkel met hoe om hesed in Engels weer te gee. Hulle het dikwels “goedertierenheid” gekies. Dit omvat baie, maar nie ál die betekenis van hesed nie. Ander vertalings is ook weergegee, soos “barmhartigheid” en “goedheid”. Hesed is ʼn unieke term wat ʼn verbondsverhouding beskryf waarin albei partye verplig is om lojaal en getrou aan mekaar te wees.
ʼn Selestiale huwelik is so ʼn verbondsverhouding. ʼn Man en vrou sluit ʼn verbond met God en met mekaar om lojaal en getrou aan mekaar te wees.
Hesed is ʼn spesiale soort liefde en genade wat God voel en uitstrek na diegene wat ʼn verbond met Hom gesluit het. En ons gee met hesed terug vir Hóm.
Sodra ek en jy ʼn verbond met God gesluit het, word ons verhouding met Hom baie nader as vóór ons verbond. Nou is ons aan mekaar verbind.
Foto deur Jerry L. Garns
Omdat God hesed het vir diegene wat ʼn verbond met Hom gesluit het, sal Hy hulle liefhê. Hy sal voortgaan om saam met hulle te werk en aan hulle geleenthede bied om te verander. Hy sal hulle vergewe wanneer hulle hul bekeer. En sou hulle afdwaal, sal Hy hulle help om hulle pad na Hom terug te vind.
Sodra ek en jy ʼn verbond met God gesluit het, word ons verhouding met Hom baie nader as vóór ons verbond. Nou is ons aan mekaar verbind. As gevolg van ons verbond met God, sal Hy nooit moeg word in sy pogings om ons te help nie, en ons sal nooit sy barmhartige geduld teenoor ons uitput nie. Elkeen van ons het ʼn spesiale plek in God se hart. Hy het groot hoop vir ons.
Julle weet van die historiese verklaring wat die Here aan die Profeet Joseph Smith gegee het. Dit het deur openbaring gekom. Die Here het vir Joseph gesê: “Hierdie belofte behoort ook aan julle, omdat julle van Abraham is, en die belofte is gemaak aan Abraham” (Leer en Verbonde 132:31).
Daardeur is hierdie ewige verbond herstel as deel van die groot Herstelling van die evangelie in sy volheid. Dink daaraan! ʼn Huweliksverbond wat in die tempel gesluit is, word direk met daardie Abrahamitiese verbond verbind. In die tempel word ʼn egpaar bekendgestel aan al die seëninge wat vir die getroue nageslag van Abraham, Isak en Jakob gereserveer is.
Soos Adam, het ek en jy persoonlik die verbondspad by die doop betree. Dan betree ons dit meer volledig in die tempel. Die seëninge van die Abrahamitiese verbond word in heilige tempels toegeken. Hierdie seëninge stel ons in staat om, wanneer ons opgewek word, “trone, koninkryke, prinsdomme, en magte, heerskappye [te] beërwe tot ons ‘verheffing en heerlikheid in alle dinge’ [Leer en Verbonde 132:19].”4
In die slotteks van die Ou Testament lees ons van Maleági se belofte dat Elía “die hart van die vaders [sal] terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders” (Maleági 4:6). In eertydse Israel sou so ʼn verwysing na die vaders, vaders Abraham, Isak en Jakob ingesluit het. Hierdie belofte word verduidelik wanneer ons die weergawe van hierdie vers lees wat Moroni aan die profeet Joseph Smith anders aangehaal het: “En hy [Elía] sal in die harte van die kinders die beloftes plant wat aan die vaders gemaak is, en die harte van die kinders sal na hulle vaders gekeer word” (Joseph Smith—Geskiedenis 1:39). Daardie vaders sluit beslis Abraham, Isak en Jakob in. (Sien Leer en Verbonde 27:9–10.)
Diegene wat heilige verbonde sluit en dit onderhou, word die ewige lewe en verheffing belowe. Christus is die borg van daardie verbonde.
Detail van Christ and the Rich Young Ruler [Christus en die Ryk Jongman], deur Heinrich Hofmann
Jesus Christus: Die Middelpunt van die Verbond
Die Saligmaker se soenoffer het die Vader in staat gestel om sy beloftes aan sy kinders te vervul. Omdat Jesus Christus “die weg en die waarheid en die lewe,” is, volg dit dat “niemand na die Vader [kom] behalwe deur [Hom] nie” (Johannes 14:6). Die vervulling van die Abrahamitiese verbond word haalbaar as gevolg van die Versoening van ons Saligmaker, die Here Jesus Christus. Jesus Christus is die middelpunt van die Abrahamitiese verbond.
Die Ou Testament is nie net ʼn boek van skrifture nie; dit is ook ʼn boek van geskiedenis. Jy onthou dat jy oor die huwelik van Sarai en Abram gelees het. Omdat hulle kinderloos was, het Sarai haar slavin, Hagar, ook as Abram se vrou gegee, in ooreenstemming met die Here se leiding. Hagar het geboorte geskenk aan Ismael.5 Abram was lief vir Ismael, maar hy sou nie die kind wees deur wie die verbond sou gaan nie. (Sien Génesis 11:29–30; 16:1, 3, 11; Leer en Verbonde 132:34.)
As ʼn seëning van God, en in reaksie op Sarai se geloof,6 het sy in haar gevorderde jare swanger geword sodat die verbond deur haar seun, Isak, sou gaan (sien Génesis 17:19). Hy is in die verbond gebore.
God het Sarai en Abram nuwe name gegee—Sara en Abraham (sien Génesis 17:5, 15). Die skenking van daardie nuwe name was die begin van ʼn nuwe lewe en ʼn nuwe bestemming vir hierdie gesin.
Abraham was lief vir beide Ismael en Isak. God het vir Abraham gesê dat Ismael vermenigvuldig sou word en ʼn groot nasie sou word (sien Génesis 17:20). Terselfdertyd het God dit duidelik gemaak dat die ewigdurende verbond deur Isak gesluit sou word (sien Génesis 17:19).
Almal wat die evangelie aanneem, word deel van die geslagslyn van Abraham. Ons lees in Galásiërs:
“want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
“… Julle is almal een in Christus Jesus.
“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galásiërs 3:27–29).
Ons kan dus erfgename van die verbond word, hetsy deur geboorte of deur aanneming.
Sodra ons ʼn verbond met God sluit, verlaat ons neutrale grond vir ewig. God sal nie sy verhouding laat vaar met diegene wat so ʼn band met Hom gesmee het nie.
Isak en Rebekka se seun Jakob is in die verbond gebore. Daarbenewens het hy gekies om uit sy eie ʼn ooreenkoms aan te gaan. Soos julle weet, is Jakob se naam verander na Israel (sien Génesis 32:28), wat beteken ”laat God seëvier” of “iemand wat by God seëvier.”7
In Exodus lees ons dat “God gedink het aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob” (Exodus 2:24). God het vir die kinders van Israel gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees” (Exodus 19:5).
Die frase “my eiendom” is vertaal uit die Hebreeuse segullah, wat ʼn hoogsgewaardeerde besitting beteken—ʼn “skat.”8
Die boek Deuteronómium meld die belangrikheid van die verbond. Apostels van die Nuwe Testament het van hierdie verbond geweet. Nadat Petrus ʼn kreupel man op die tempeltrappe genees het, het hy die toeskouers van Jesus geleer. Petrus het gesê: “Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik” (Handelinge 3:13).
Petrus het sy boodskap afgesluit deur vir sy gehoor te sê: “Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Handelinge 3:25). Petrus het dit vir hulle duidelik gemaak dat ʼn deel van Christus se sending was om God se verbond te vervul.
Die Here het ʼn soortgelyke preek aan die mense van antieke Amerika gelewer. Daar het die herrese Christus vir die mense gesê wie hulle werklik is. Hy het gesê:
“Julle is die kinders van die profete; en julle is van die huis van Israel; en julle is van die verbond wat die Vader gesluit het met julle vaders, wat aan Abraham sê: En in jou saad sal al die stamme van die aarde geseën word.
“Die Vader het My opgewek, eerste vir julle, en het My gestuur om julle te seën deur elkeen van julle weg te draai van [julle] ongeregtighede; en dit omdat julle die kinders van die verbond is” (3 Nefi 20:25–26).
Sien julle die betekenis hiervan? Diegene wat hulle verbonde met God onderhou, sal ʼn stam van sondebestande siele word! Diegene wat hulle verbonde onderhou, sal die krag hê om die voortdurende invloed van die wêreld te weerstaan.
Diegene wat hulle verbonde met God onderhou, sal ʼn stam van sondebestande siele word! Diegene wat hulle verbonde onderhou, sal die krag hê om die voortdurende invloed van die wêreld te weerstaan.
Sendingwerk: Deel die Verbond
Die Here het beveel dat ons die evangelie moet versprei en die verbond moet deel. Dit is hoekom ons sendelinge het. Hy wil hê dat elkeen van sy kinders die geleentheid moet hê om die Saligmaker se evangelie te kies en die verbondspad aan te pak. God wil alle mense verbind met die verbond wat Hy in die antieke tyd met Abraham gesluit het.
Sendingwerk is dus ʼn noodsaaklike deel van die groot versameling van Israel. Daardie versameling is die belangrikste werk wat vandag op die aarde plaasvind. Niks anders vergelyk in omvang nie. Niks anders vergelyk in belangrikheid nie. Die Here se sendelinge—sy dissipels—is besig met die grootste uitdaging, die grootste saak, die grootste werk op die aarde vandag.
Maar daar is selfs meer—baie meer. Daar is ʼn groot behoefte om die evangelie aan mense aan die ander kant van die sluier te versprei. God wil hê dat almal, aan beide kante van die sluier, die seëninge van sy verbond moet geniet. Die verbondspad is oop vir almal. Ons pleit by almal om die pad saam met ons te stap. Geen ander werk is so universeel inklusief nie. Want “die Here is barmhartig teenoor almal wat, in die opregtheid van hulle harte, sy heilige Naam aanroep” (Helaman 3:27).
Omdat die Melgisédekse Priesterskap herstel is, het verbondsonderhoudende vroue en mans toegang tot “al die geestelike seëninge” van die evangelie (Leer en Verbonde 107:18; beklemtoning bygevoeg).
Tydens die toewyding van die Kirtland-tempel in 1836, onder leiding van die Here, het Elía verskyn. Sy doel? “Om die kinders na die vaders … te keer” (Leer en Verbonde 110:15). Elías het ook verskyn. Sy doel? Om “die tydvak van die evangelie van Abraham oor [te] dra, en gesê dat in ons en ons saad alle geslagte na ons geseën sal word” (Leer en Verbonde 110:12). Dus het die Meester priesterskapsgesag en die reg om die unieke seëninge van die Abrahamitiese verbond aan ander oor te dra, aan Joseph Smith en Oliver Cowdery toegeken.9
In die Kerk reis ons op die verbondspad beide individueel en gesamentlik. Net soos huwelike en gesinne ʼn unieke laterale band deel wat ʼn spesiale liefde skep, so doen die nuwe verhouding wat gevorm word wanneer ons onsself deur verbond vertikaal aan ons God verbind!
Dit kan wees wat Nefi bedoel het toe hy gesê het dat God “diegene liefhet wat Hom as hulle God wil hê” (1 Nefi 17:40). Dit is presies waarom, as deel van die verbond, ʼn spesiale genade en liefde—of hesed—beskikbaar is vir almal wat hierdie bindende en intieme verhouding met God betree, selfs “in duisend geslagte” (Deuteronómium 7:9).
Om ʼn verbond met God te sluit, verander ons verhouding met Hom vir ewig. Dit seën ons met ʼn ekstra mate van liefde en genade.10 Dit beïnvloed wie ons is en hoe God ons sal help om te word wat ons kan word. Ons word belowe dat ons ook ʼn “besondere skat” vir Hom kan wees (Psalm 135:4).
Beloftes en Voorregte
Diegene wat heilige verbonde sluit en dit onderhou, word die ewige lewe en verheffing belowe, “die grootste van al die gawes van God” (Leer en Verbonde 14:7). Jesus Christus is die borg van daardie verbonde (sien Hebreërs 7:22; 8:6). Verbondsonderhouers wat God liefhet en Hom toelaat om oor alle ander dinge in hulle lewens te heers, maak Hom die kragtigste invloed in hulle lewens.
In ons dag is ons bevoorreg om patriargale seëninge te ontvang en te leer van ons verbintenis met die antieke patriarge. Daardie seëninge gee ook ʼn blik op wat voorlê.
As gevolg van ons verbond met God, sal Hy nooit moeg word in sy pogings om ons te help nie, en ons sal nooit sy barmhartige geduld teenoor ons uitput nie.
Lovest Thou Me More Than These? [Het Jy My Meer Lief As Hulle Hier?] deur David Lindsley
Ons roeping as verbond Israel is om seker te maak dat elke lid van die Kerk die vreugde en voorregte verwesenlik wat verband hou met die sluit van verbonde met God. Dit is ʼn oproep om elke verbondsonderhoudende man en vrou, seun en meisie, aan te moedig om die evangelie te deel met diegene wat binne hul invloedsfeer kom. Dit is ook ʼn oproep om ons sendelinge wat uitgestuur word met opdragte om te doop en te help om Israel te versamel, te ondersteun en aan te moedig, sodat ons saam God se volk kan wees en Hy ons God sal wees (sien Leer en Verbonde 42:9).
Elke man en vrou wat priesterskapsordinansies waardig ontvang en die verbonde onderhou, het direkte toegang tot die mag van God. Ons neem die Naam van die Here op onsself as individue. Ons neem ook sy Naam op ons as ʼn volk. Om passievol te wees oor die gebruik van die korrekte naam van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is ʼn belangrike manier waarop ons as mense sy Naam op ons neem. Waarlik, elke welwillende daad van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae en sy lede is ʼn uitdrukking van God se hesed.
Waarom is Israel verstrooi? Omdat die volk die gebooie verbreek en die profete gestenig het. ʼn Liefdevolle maar bedroefde Vader het gereageer deur Israel wyd en syd te verstrooi.11
Maar Hy het hulle verstrooi met ʼn belofte dat Israel weer eendag in sy kudde versamel sou word.
Die stam van Juda is die verantwoordelikheid gegee om die wêreld voor te berei vir die eerste koms van die Here. Maria is uit daardie stam opgeroep om die moeder van die Seun van God te wees.
Die stam van Josef, deur sy en Asenath se seuns, Efraim en Manasse (sien Génesis 41:50–52; 46:20), is die verantwoordelikheid gegee om te lei in die versameling van Israel, om die wêreld voor te berei vir die Wederkoms van die Here.
In so ʼn tydlose hesed-verhouding is dit net natuurlik dat God Israel wil versamel. Hy is ons Hemelse Vader! Hy wil hê dat elkeen van sy kinders—aan beide kante van die sluier—die boodskap van die herstelde evangelie van Jesus Christus moet hoor.
ʼn Pad van Liefde
Die verbondspad is ʼn pad van liefde—daardie ongelooflike hesed, daardie deernisvolle omgee vir en uitreik na mekaar. Om daardie liefde te voel is bevrydend en opbouend. Die grootste vreugde wat jy ooit sal ervaar, is wanneer jy verteer word met liefde vir God en vir al sy kinders.
Om God meer as enigiemand of enigiets anders lief te hê, is die toestand wat ware vrede, vertroosting, vertroue en vreugde meebring.
Die verbondspad gaan alles oor ons verhouding met God—ons hesed-verhouding met Hom. Wanneer ons ʼn verbond met God sluit, het ons ʼn verbond gesluit met Hom wat altyd sy woord sal hou. Hy sal alles doen wat Hy kan, sonder om inbreuk te maak op ons handelingsmag, om ons te help om ons s’n te hou.
Die Boek van Mormon begin en eindig met verwysing na hierdie ewige verbond. Van sy titelblad tot die slotgetuienisse van Mormon en Moroni, verwys die Boek van Mormon na die verbond (sien Mormon 5:20; 9:37). “Die koms van die Boek van Mormon is ʼn teken vir die hele wêreld dat die Here begin het om Israel te versamel en die verbonde wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gesluit het, te vervul.”12
My liewe broers en susters, ons is op hierdie deurslaggewende tydstip in die geskiedenis van die aarde geroep om die wêreld te leer van die skoonheid en krag van die ewige verbond. Ons Hemelse Vader vertrou ons volkome om hierdie groot werk te doen.
Hierdie boodskap is ook op ʼn algemene konferensieleierskapsvergadering op 31 Maart 2022 gelewer.
© 2022 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Goedkeuring vir vertaling: 6/19. Vertaling van die Monthly Liahona Message, October 2022. Afrikaans. 18317 501