Liahona
Wandel met My
Januarie 2026 Liahona


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Januarie 2026

Wandel met My

Die 2026 Jeugtema sal jou daaraan herinner dat wanneer jy naby aan God bly, Hy saam met jou sal wandel—altyd.

Jongdames Algemene Presidensie

Van links na regs: Tamara W. Runia, Eerste Raadgewer; Emily Belle Freeman, President en Andrea Muñoz Spannaus, Tweede Raadgewer

Jy Is Nie Alleen Nie

Is jy al ooit gevra om iets te doen wat jy nie gedink het jy kon doen nie? Miskien het jy nie sterk genoeg of slim genoeg gevoel nie, of jy was bekommerd dat ander vir jou sou lag en kritiseer. As jy al ooit so gevoel het, is jy nie alleen nie.

Duisende jare gelede was daar ʼn man genaamd Henog. God het vir Henog gevra om bekering aan die mense te verkondig—sommige van die boosste mense wat die aarde nog ooit gesien het.

Henog het nie gedink dat hy dit kon doen nie. Hy het vir God gesê dat hy te jonk was, dat niemand van hom gehou het nie en dat hy “stadig van spraak” was (sien Moses 6:31).

Maar God het vir Henog ʼn belofte gegee. Hy het vir die beangste man gesê: “Gaan uit en doen soos Ek jou gebied het” en “die berge sal voor julle vlug, en die riviere sal afwyk van hulle koers; en julle sal in My woon, en Ek in julle; daarom, wandel met My” (Moses 6:32, 34).

“Wandel met My.” Wat ʼn eenvoudige, pragtige uitnodiging.

God het Henog belowe dat as hy dapper genoeg sou wees om te begin, dan sou God elke tree van die pad saam met hom wees. God sou Henog magtig maak en hom versterk om meer te doen en hom help om meer te word as wat hy ooit kon dink.

Een van die Saligmaker se vele Name is Emmánuel, of “God met ons” (Matthéüs 1:23). Dit is in die Here se Naam en aard om saam met ons te wandel. Die keuse is ons s’n—sal ons ook saam met Hom wandel?

Deesdae beskou ons Henog as ʼn man van geloof en ʼn groot profeet en leier. Maar voor Henog die profeet, was daar ʼn jonger Henog wat aan homself getwyfel het, maar steeds gekies het om saam met God te wandel.

Wanneer die lewe moeilik is, wanneer jy voel jy is nie genoeg nie, onthou die Here se belofte aan Henog en aan jou. Hy sal saam met jou wandel. Hy sal jou nie alleen laat nie, nie vir ʼn enkele tree nie.

Emmánuel God met ons. God met jou!

Die Jongdames Algemene Presidensie

Jongmans Algemene Presidensie

Van links na regs: David J. Wunderli, Eerste Raadgewer; Timothy L. Farnes, President en Sean R. Dixon, Tweede Raadgewer

Met Sy Hulp, Kan Jy Alles Doen

Soos julle jongmans, het die Here vir Henog gevra om belangrike priesterskapsverantwoordelikhede te vervul. Sy taak was om bekering aan ʼn goddelose volk te verkondig. Henog het sy twyfel uitgespreek. “Ek is slegs ʼn jongeling,” het hy gesê. “Al die mense haat my … ek is stadig van spraak; waarom is ek u dienskneg?” (Moses 6:31).

Die Here het met krag en gerusstelling gereageer. “Gaan uit en doen soos Ek jou gebied het. … Open jou mond en dit sal gevul word … . My Gees is op julle … ; die berge sal voor julle vlug … ; daarom, wandel met My” (Moses 6:32, 34).

Henog het geleer dat wanneer die Here ons ʼn taak gee, ons dit nie alleen in die gesig staar nie. Wanneer ons verbonde met Christus sluit en onderhou, wandel ons met Hom en deel in sy krag—ons word werktuie in sy hande.

Soos Henog, het jy ʼn noodsaaklike rol: bediening, diens in die tempel, bediening van die nagmaal, bestudering van die skrifture, uitlewing van evangeliestandaarde, bekering, voorbereiding vir sendings, en meer. Dit kan oorweldigend voel. Jy mag dalk onbevoeg voel. Dis piekfyn. Dit gaan nie daaroor om dit alleen te doen nie. Dit gaan daaroor om vandag—hierdie dag en elke dag—te kies om met God te wandel.

Met sy hulp kan jy alles doen. Hy sal jou versterk, vergewe en bemagtig bó jou natuurlike vermoë. Hy is lief vir jou! As die Jongmans Algemene Presidensie is ons lief vir julle en sien uit daarna om saam met julle die inspirerende 2026-tema: “Wandel met My” te verken.

Die Jongmans Algemene Presidensie