“Deelgenote van die Goddelike Natuur,” Liahona, Jan. 2026.
Maandelikse Liahona-boodskap, Januarie 2026
Deelgenote van die Goddelike Natuur
(2 Petrus 1:4)
Kennis van die heilsplan verskaf kosbare perspektief, verryk ons vreugdes en versterk ons om ons uitdagings en teëspoed te oorkom.
Christ Calls Two Disciples [Christus Roep Twee Dissipels], deur Gary E. Smith
Die Apostel Petrus herinner ons daaraan dat vir dissipels van Jesus Christus, sy “goddelike krag … ons alles geskenk [het] wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
“Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat [ons] daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:3–4; beklemtoning bygevoeg).
Hemelse Vader se plan beskryf die grootste en kosbare waarhede en beloftes wat ons ewige identiteit en doel bepaal.
Soos verduidelik in “Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”:
“Alle mense—manlik en vroulik—is na die beeld van God geskape. Elkeen is ʼn geliefde geestesseun of -dogter van hemelse ouers, en as sodanig het elkeen ʼn goddelike aard en bestemming.
“In die vooraardse ryk het geestesseuns en -dogters God as hul Ewige Vader geken en aanbid en sy plan aanvaar waardeur sy kinders ʼn fisiese liggaam kon verkry en aardse ervaring kon opdoen om na volmaaktheid te vorder en uiteindelik hul goddelike bestemming as erfgename van die ewige lewe te verwesenlik.”
Hemelse Vader belowe sy kinders dat as hulle die voorskrifte van sy plan en die voorbeeld van sy Geliefde Seun volg, die gebooie onderhou en volhard in geloof tot die einde, “sal [hulle] die ewige lewe hê, welke gawe die grootste van al die gawes van God is” (Leer en Verbonde 14:7).
God se werk is gefokus op die vordering en verheffing van sy kinders. Elke faset van sy plan is ontwerp om sy seuns en dogters te seën omdat “die waarde van siele groot in [sy] oë [is]” (Leer en Verbonde 18:10).
Die Vader se Plan
In die vooraardse raad het Hemelse Vader sy plan aan sy geesteskinders voorgelê vir hulle ewige vordering en geluk.
“Ons sal ʼn aarde maak waarop hulle mag woon;
“En ons sal hulle hierdeur beproef, om te sien of hulle alle dinge sal doen wat die Here hulle God hulle sal gebied;
“En aan hulle wat hul eerste staat onderhou, sal toegevoeg word; en hulle wat nie hulle eerste staat onderhou nie, sal nie heerlikheid hê in dieselfde koninkryk met diegene wat hulle eerste staat onderhou; en hulle wat hul tweede staat onderhou, sal heerlikheid op hulle hoofde toegevoeg ontvang vir ewig en ewig.
“En die Here het gesê: Wie sal Ek stuur? En Een soos die Seun van die Mens het geantwoord: Hier is Ek, stuur My. En ʼn ander het geantwoord en gesê: Hier is Ek, stuur my. En die Here het gesê: Ek sal die eerste stuur.
“En die tweede was toornig, en het nie sy eerste staat onderhou nie; en, op daardie dag, het baie hom gevolg” (Abraham 3:24–28).
Let daarop dat slegs een plan in die vooraardse raad voorgelê is—die Vader se plan. Ons Hemelse Vader het nie die vraag gevra: “Wat moet ons doen?” nie. Hy het nie vir insette of aanbevelings gevra of voorstelle versoek nie. Hy het in plaas daarvan die basiese elemente van sy plan voorgelê en gevra: “Wie sal Ek stuur?” Die kern van sy vraag het gefokus op wie gestuur moes word om die bepalings en voorwaardes van sy plan uit te voer.
Die gevolge van die teenstander se rebellie word ook in die skrifture beskryf.
“Daarom, omdat daardie Satan teen My gerebelleer het, en gesoek het om die handelingsmag van die mens te vernietig, wat Ek … aan hom gegee het, en ook, dat Ek aan hom my eie mag moes gee … , het Ek hom laat neerwerp;
“En hy het Satan geword, … die duiwel, die vader van alle leuens, om die mens te verlei en te verblind, en om hulle gevangene te neem volgens sy wil, en wel almal wat nie wou ag slaan op my stem nie” (Moses 4:3–4; beklemtoning bygevoeg).
Lucifer het nie ʼn plan voorgelê wat nie deur ʼn meerderheid van die deelnemers in die vooraardse raad aanvaar is nie. Hy is nie ʼn simpatieke figuur wat ʼn verkiesing verloor het nie. Hy het gerebelleer! Hoogmoed, arrogansie en selfsug het sy rebellie teen die Vader se plan gemotiveer.
Die Vader se Plan en die Saligmaker se Evangelie
Die plan beskryf die werke van die Vader en die Seun wat die seëninge van die ewige lewe aan die hele mensdom beskikbaar stel.
Die evangelie van Jesus Christus omvat die manier waarop ons die seëninge kan ontvang wat in God se plan belowe is, naamlik die leer, beginsels, ordinansies en verbonde wat mans en vroue moet glo en volg. “Daar is geen ander Naam gegee onder die hemel behalwe hierdie Jesus Christus … waardeur ʼn mens gered kan word nie” (2 Nefi 25:20). Die Here Jesus Christus is waarlik “die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur [Hom] nie” (Johannes 14:6; beklemtoning bygevoeg).
President Russell M. Nelson het verduidelik:
“Die plan het die Skepping vereis en dit het weer beide die Val en die Versoening vereis. Hierdie is die drie vernaamste komponente van die plan. Die skepping van ʼn paradyslike planeet het van God gekom. Sterflikheid en dood het in die wêreld gekom deur die Val van Adam [sien 2 Nefi 2:25; Moses 6:48]. Onverganklikheid en die moontlikheid van ewige lewe is voorsien deur die Versoening van Jesus Christus [sien 2 Nefi 2:21–28]. …
“… Ons kom na die aarde vir ʼn kort tydjie, verduur ons toetse en beproewinge en berei ons voor om vorentoe en opwaarts te beweeg na ʼn glorieryke tuiskoms [sien Psalm 116:15; Alma 42:8]. Ons denke en dade terwyl ons [in die sterflikheid] is, sal sekerlik meer doelgerig wees as ons God se plan verstaan en dankbaar is vir en gehoorsaam is aan sy gebooie [sien Leer en Verbonde 59:20–21].”
Titels van die Plan in die Boek van Mormon
Ons leer belangrike waarhede deur die vele verskillende titels vir die Vader se plan te identifiseer en te bestudeer in die Boek van Mormon: Nog ʼn Testament van Jesus Christus. Dink byvoorbeeld aan die volgende geselekteerde voorbeeld van titels:
“Die barmhartige plan van die groot Skepper” (2 Nefi 9:6).
“Die plan van ons God” (2 Nefi 9:13).
“Die heilsplan” (Jarom 1:2; Alma 24:14).
“Die plan van verlossing” (Alma 12:25, 26, 30, 32, 33; 42:11, 13).
“Die plan van herstelling” (Alma 41:2).
“Die plan van geluk” (Alma 42:16).
“Die groot plan van barmhartigheid” (Alma 42:31).
Elkeen van hierdie titels help ons om die kosbare beloftes van die Vader se plan duideliker te verstaan en verryk ons perspektief oor die doeleindes en betekenis van ons sterflike lewens.
Dit is van betekenis dat die mees gebruikte titel vir God se plan in die Boek van Mormon fokus op die verlossing wat moontlik gemaak is deur die Versoening van Jesus Christus.
Alma het verklaar: “As dit nie was vir die plan van verlossing nie, wat gesmee is vanaf die grondlegging van die wêreld, kon daar geen opstanding van die dode gewees het nie; maar daar was ʼn plan van verlossing gesmee, wat die opstanding van die dode sal teweegbring” (Alma 12:25).
Hy het ook vermaan: “Begin om te glo in die Seun van God, dat Hy sal kom om sy volk te verlos, en dat Hy sal ly en sterwe, om versoening te doen vir hulle sondes; en dat Hy weer sal opstaan uit die dood, wat die opstanding sal teweegbring dat alle mense voor Hom sal staan om geoordeel te word op die laaste en oordeelsdag, volgens hulle werke” (Alma 33:22).
Die Weg Is Berei
Ons siele behoort van dankbaarheid te swel as ons God se groot heilsplan, verlossing, herstelling, barmhartigheid en geluk oorweeg. Kennis van sy plan verskaf kosbare perspektief, verryk ons vreugdes en versterk ons om ons uitdagings en teëspoed te oorkom.
Hemelse Vader verlang dat ons na Hom terugkeer. Hy nooi uit en belowe seëninge, maar Hy sal nooit ons uitoefening van die morele handelingsmag wat Hy aan ons gegee het, afdwing, forseer of beperk nie. Ons moet optree en kies om na Hom terug te keer deur die voorbeeld van sy Geliefde Seun te volg.
His Hand Is Stretched Out Still [Sy Hand Is Steeds Uitgestrek], deur Elizabeth Thayer
“Die weg is berei, en as ons sal kyk, mag ons vir ewig lewe” (Alma 37:46; beklemtoning bygevoeg).
Ek getuig met vreugde dat Hemelse Vader die outeur van die goddelike plan vir sy kinders is. Jesus Christus is ons Verlosser en Saligmaker. En as een van die Here se laaste-dae Apostels, getuig ek dat Hy inderdaad “die weg en die waarheid en die lewe” is (Johannes 14:6; beklemtoning bygevoeg).
© 2026 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, January 2026. Afrikaans. 19932 501