2025
Wat weet ons van die herders by die eerste Kersfees?
Desember 2025 Liahona


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Desember 2025

Wat weet ons van die herders by die eerste Kersfees?

jong dame

Shepherds [Herders], deur Brian Call

Ons weet ʼn paar dinge oor die herders by die eerste Kersfees.

Hulle was naby Betlehem. Die herders was “in dieselfde land” waar Christus se geboorte plaasgevind het (Lukas 2:8). En hulle kon Betlehem te voet bereik terwyl Hy nog daar was (sien Lukas 2:15–16).

Hulle het hul plig gedoen. Hierdie herders “het in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou” (Lukas 2:8). Hulle was goeie en getroue herders, soos die Saligmaker—die Goeie Herder (sien Johannes 10:11, 14).

Hulle het die profesieë van die Messias geken. Hulle het blykbaar geweet waarvan die engel praat toe hy die geboorte van “Christus die Here” aangekondig het (Lukas 2:11), die Messias van wie van ouds geprofeteer is.

Hulle was vol ywer. Toe die engel hulle vertel van die “kindjie … wat in die krip lê” (Lukas 2:12), het hulle “met haas” gegaan om Hom te sien (Lukas 2:16).

Hulle het die goeie nuus gedeel. Hulle het “oral die woord bekend gemaak” wat hulle gehoor en gesien het aangaande die engel se boodskap omtrent Christus se geboorte (Lukas 2:17).

Hulle het God gedank en geprys. Hierna het hulle “teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het” (Lukas 2:20).