“Geseën deur Priesterskapsgesag en -mag,” Liahona, Sept. 2025.
Maandelikse Liahona-boodskap, September 2025
Geseën deur Priesterskapsgesag en -mag
Kerklede gebruik die mag van God om ander in die Kerk, tuis en regoor die wêreld te dien en te seën.
Ons getuienis aan die wêreld is dat die heilige priesterskap van God noodsaaklik is om sy werk van heil en verheffing te volbring, dat Hy die priesterskap vir daardie doel op die aarde herstel het en dat dit deur Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae beheer word.
Die Noodsaaklikheid van Priesterskapsgesag en -mag
Jesus Christus is die Hoof van die Kerk. Die Kerk is die instrument wat Hy geskep het om die noodsaaklike werk van die verlossing van die mensdom in hierdie laaste evangeliese tydvak te volbring, net soos in die tydvak toe Hy op die aarde geleef het. Deur die Kerk:
-
Kan Hy sy evangelie regoor die wêreld verkondig.
-
Kan Hy die doop en alle ander verbonde aanbied—selfs ʼn verbondspad na sy selestiale koninkryk.
-
Kan Hy families vir die ewigheid verenig.
-
Kan Hy die gawes van heil aanbied, selfs aan diegene wat daarsonder gesterf het.
-
Kan Hy in die fisiese behoeftes van God se kinders in die hede voorsien.
Om hierdie grootse doeleindes te bewerkstellig en om vir die Saligmaker se wederkoms voor te berei, het die Kerk God se voortdurende leiding, gesag en mag nodig. Die Kerk is die “ware en lewende kerk” (Leer en Verbonde 1:30) omdat Christus dit met sy leierskap en mag beklee deur sy priesterskap, “die Heilige Priesterskap, volgens die Orde van die Seun van God” (Leer en Verbonde 107:3).
Sonder hierdie heilige priesterskap sou die Kerk in wese ʼn sekulêre organisasie wees wat goed doen in die wêreld, maar magteloos is om die uiteindelike doel te bereik om die seuns en dogters van God voor te berei vir die vreugde van die ewige lewe in sy teenwoordigheid. Met hierdie priesterskap en die sleutels om die werk van hierdie priesterskap te bestuur, is daar beide gesag en orde in die Kerk.
“Alle priesterskapsgesag in die Kerk word uitgeoefen onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou.
“Waardige manlike Kerklede ontvang priesterskapsgesag deur toekenning van die priesterskap en ordinering tot priesterskapsampte. Alle Kerklede kan gedelegeerde gesag uitoefen wanneer hulle afgesonder of toegewys word om te help om God se werk te volbring.”
Deur priesterskapsleutels sal die Here se prioriteite altyd oorwin. Niemand kan ʼn persoonlike agenda volhou wat nie in ooreenstemming met sy leiding is nie. Niemand kan slaag in priesterlis, op soek na persoonlike gewin en ʼn persoonlike aanhang nie.
Priesterskap speel ook ʼn kritieke rol in die huise van Kerklede. President Dallin H. Oaks, Eerste Raadgewer in die Eerste Presidensie, het geleer: “Die beginsel dat priesterskapsgesag slegs uitgeoefen kan word onder leiding van die een wat die sleutels vir daardie funksie hou, is fundamenteel in die Kerk, maar dit is nie van toepassing in die familie nie.” Vaders presideer en oefen die priesterskap in hul familie uit—berading, hou familievergaderings, gee priesterskap- of genesingseëninge aan familielede of ander, ensovoorts—sonder die leiding of magtiging van iemand wat priesterskapsleutels hou.
“Dieselfde beginsel geld wanneer ʼn vader afwesig is en ʼn moeder die familieleier is. Sy presideer in haar huis en is instrumenteel om die mag en seëninge van die priesterskap in haar familie te bring deur haar begiftiging en verseëling in die tempel.”
Die Herstelling van die Priesterskap in Ons Tyd
15 Mei 1829
Die herstelling van priesterskapsgesag in hierdie laaste tydvak het in ʼn ordelike, stapsgewyse progressie verloop. Onderwyl die fundamentele skriftuur vir ons tydvak, die Boek van Mormon, in 1829 vertaal is, het die Here begin om sy priesterskapstruktuur in plek te stel. In antwoord op Joseph Smith en Oliver Cowdery se biddende navraag rakende die doop, het die herrese Johannes die Doper verskyn en die Aäroniese Priesterskap aan hulle toegeken, die priesterskap “wat die sleutels hou van die bediening van engele, en van die evangelie van bekering, en van doop deur onderdompeling vir die vergifnis van sondes” (Leer en Verbonde 13:1). Met daardie gesag het Joseph en Oliver mekaar en later ander gedoop toe die Kerk formeel georganiseer is.
Kort ná 15 Mei 1829
Nie lank na Johannes die Doper se verskyning nie, het die voortydse Apostels Petrus, Jakobus en Johannes verskyn en die hoër, of Melgisédekse priesterskap toegeken, insluitend “die sleutels van my koninkryk … en ʼn tydvak van die evangelie vir … die volheid van tye” (Leer en Verbonde 27:13; sien ook 128:20).
3 April 1836
Bykomende benodigde priesterskapsgesag het vervolgens gekom toe drie voortydse profete, Moses, Elías en Elía in die Kirtland-tempel aan Joseph en Oliver verskyn het en aan hulle die sleutels van die versameling van Israel en van die werk wat betrekking het op die tempels van die Here oorgedra het (sien Leer en Verbonde 110:11–16).
Somer 1829–April 1835
Openbarings nou heilig verklaar in die Leer en Verbonde, het aan die Profeet Joseph Smith instruksies gegee aangaande die ordinering van mans tot die amp van die hoër (Melgisédekse) en die voorbereidende (Aäroniese) priesterskappe; die aanstelling van priesterskapsampte, soos biskoppe; en die organisering van priesterskapskworums en -rade.
1835–1973
Profetiese leiding gaan voort om die priesterskapsorganisasie en -funksie in die Kerk te lei. Die Sewentigskworums was byvoorbeeld in die Kirtland area georganiseer om die Kworum van die Twaalf te ondersteun. Na die groot eksodus na die Weste en die verspreiding van Kerklede oor breë geografiese gebiede, is hierdie kworums toegewys om in die penne van die Kerk te funksioneer.
1973–Hede
Onder die administrasies van Presidente Spencer W. Kimball (1895–1985), Ezra Taft Benson (1899–1994), en Gordon B. Hinckley (1910–2008), het die Sewentigs en hul kworums direk onder die Kworum van die Twaalf op die algemene Kerkvlak en in Kerkgebiede begin funksioneer. Kworums op die penvlak is toe gestaak. Vandag word die Apostels ondersteun deur twaalf kworums van Algemene Gesagsdraers en Area Sewentigs “om die kerk op te bou en die sake daarvan te beheer in alle nasies” (Leer en Verbonde 107:34). Bykomende kworums van Sewentigs kan geskep word soos die Kerk uitbrei.
Ouderling Christofferson groet broers Sampson en Daniel Amako in Gambië, Wes-Afrika, in Februarie 2022.
Priesterskap: Die Mag om te Seën
Kortliks, die doel van die priesterskapsgesag en -mag wat Jesus Christus herstel het, is om te seën. Dit stel Kerklede in staat om die mag van God te gebruik om ander in die Kerk, tuis en regoor die wêreld te dien en te seën. Lede sluit aan by die Saligmaker om sy werk van heil en verheffing te volbring en gebruik goddelike gawes en mag vér bo hul eie om die koninkryk van God te help groei om die aarde te vul (sien Leer en Verbonde 65:2, 5–6).
Die Here het verduidelik dat “hierdie groter [Melgisédekse] priesterskap bedien die evangelie en hou die sleutel van die verborgenhede van die koninkryk, naamlik die sleutel van die kennis aangaande God.
“Daarom, in die ordinansies daarvan word die mag van goddelikheid geopenbaar.
“En sonder die ordinansies daarvan en die gesag van die priesterskap, word die mag van goddelikheid nie geopenbaar aan die mens in die vlees nie” (Leer en Verbonde 84:19–21).
Ordinansies is natuurlik die priesterskapsbediening-seremonies of nagmaal waardeur ons verbonde met God sluit, wat begin met die doop en voortgaan deur die verbonde wat in die huis van die Here ontvang word. Dit is deur hierdie verbonde te onderhou dat ons van “natuurlike” mans en vroue in heiliges verander (sien Mosia 3:19) deur die versoeningsgenade van Christus en om beide geregverdig en geheilig te word—skuldeloos en vlekkeloos—voor God (sien Leer en Verbonde 20:29–31; 3 Nefi 27:16–20).
Hierdie aanhaling uit “Die Herstelling van die Volheid van die Evangelie van Jesus Christus: ʼn Tweehonderdjarige Proklamasie aan die Wêreld,” deur die Eerste Presidensie en Raad van die Twaalf Apostels, gee ʼn gepaste opsomming:
“Ons verklaar dat Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, georganiseer op 6 April 1830, Christus se herstelde Kerk van die Nuwe Testament is. Hierdie Kerk is geanker in die volmaakte lewe van sy hoof hoeksteen, Jesus Christus, en in sy oneindige Versoening en letterlike Opstanding. Jesus Christus het weer eens Apostels geroep en hulle priesterskapsgesag gegee. Hy nooi ons almal om na Hom en sy Kerk te kom, om die Heilige Gees, en die ordinansies van heil te ontvang, en om ewigdurende vreugde te ontvang.”
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, September 2025. Afrikaans. 19604 501