Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Augustus 2025
Wie God Nié Is Nie
5 Waarhede oor Ons Hemelse Vader
Ons kan baie leer oor wie God is as ons verstaan wie Hy nié is nie.
Illustrasie deur Camila Gray
Een van die grootste seëninge van die Herstelling is dat God Homself en sy karakter weer as ʼn liefdevolle Hemelse Vader geopenbaar het. Maar soms het ons gedagtes of idees oor God wat eenvoudig nie waar is nie. Wanneer dit gebeur kan ons baie leer oor wie God is deur te verstaan wie Hy nié is nie.
God is nié een of ander onbekende persoon op ʼn troon ver, ver weg nie.
Hy is ons Vader, wonderliker as selfs die beste aardse vader wat jy jou kan voorstel. Alhoewel ons nie ons vooraardse lewe saam met Hom kan onthou nie, ken Hy ons individueel en volmaak. Hy het ʼn volmaakte liggaam van vlees en been, en ons is na sy beeld geskape.
As jy sukkel om jou voor te stel hoe God is, is daar ʼn volmaakte voorbeeld: Sy Seun, Jesus Christus. Christus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle my geken het, sou julle my Vader ook geken het” (Johannes 14:6–7). Met ander woorde, as ons wil weet hoe Hemelse Vader is, kan ons leer oor hoe Jesus Christus is! Hulle is volkome verenig in doel.
God is nié iemand wat te besig vir jou is nie.
Trouens, om jou te help om die ewige lewe te hê, is sy werk en sy heerlikheid. Jy is sy #1 fokus! Hy is nie gebonde aan tyd soos ons is nie. Reik enige tyd uit na Hom in gebed. Luister dan na die baie maniere waarop Hy antwoord.
God is nié iemand wat jou dwing om Hom te volg nie.
Ouderling Dale G. Renlund van die Kworum van die Twaalf Apostels het eenkeer geleer: “Ons Hemelse Vader se doel met ouerskap is nie om sy kinders te laat doen wat reg is nie; dit is om sy kinders te laat kies om te doen wat reg is en uiteindelik soos Hy te word.” Hy sal jou nooi, met jou praat en jou die waarheid leer, maar Hy sal nie jou handelingsmag wegneem deur jou te dwing om Hom te volg nie.
God is nié iemand wat jou probeer uitvang om iets verkeerd te doen sodat Hy jou kan straf nie.
In plaas daarvan, soos Ouderling Patrick Kearon van die Kworum van die Twaalf Apostels dit gestel het: “God volg jou meedoënloos,” wat beteken dat Hy nooit sal ophou om jou te probeer help om na Hom terug te keer nie. Hy weet dat ons almal natuurlik moeilike dinge in die gesig staar wanneer ons foute maak. Hy voorsien dus ʼn manier vir ons om rein gemaak te word van sonde en krag te vind deur sy Seun se Versoening.
God is nié iemand wat vir jou wag om “genoeg” of “volmaak” te wees voordat Hy jou sal liefhê nie.
Sy liefde vir jou is oneindig. Hy is nóú lief vir jou, so onvolmaak soos jy is! President Jeffrey R. Holland, Waarnemende President van die Kworum van die Twaalf Apostels, gee ʼn kragtige verduideliking oor hierdie waarheid: “‘Kom soos julle is,’ sê ʼn liefdevolle Vader vir elkeen van ons, maar Hy voeg by: ‘Moenie beplan om te bly soos julle is nie.’ Ons glimlag en onthou dat God vasbeslote is om meer van ons te maak as wat ons gedink het ons kan wees.” Met volmaakte liefde en aanmoediging probeer Hemelse Vader jou help om soos Hy te word en alles wat Hy het, een tree op ʼn slag te ontvang.
Wie God IS
Die beste manier om jou Hemelse Vader te leer ken, is om aan te hou om ervarings met Hom te hê. Hoe? Leer van Hom en sy Seun uit die skrifture en woorde van lewende profete. Bid tot Hom. Onderhou sy gebooie. Spandeer stil, persoonlike tyd deur Hom by die kerk, in die tempel en in ander heilige plekke te aanbid. Sluit en onderhou verbonde met Hom. Hy sal jou help om te weet wie Hy is en hoe Hy oor jou voel.
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly For the Strength of Youth Message, August 2025. Afrikaans. 19616 501