“Die Waarheid van Ons Lewens,” Liahona, Aug. 2025.
Maandelikse Liahona-boodskap, Augustus 2025
Die Waarheid van Ons Lewens
Ons liefdevolle Hemelse Vader het waarhede van ons verlede, hede en toekoms geopenbaar, insluitende hoe om die grootste van alle gawes te ontvang.
Op 22 Januarie 1833, met die trappe op in ʼn klein, stampvol kamer bo Newel K. Whitney se winkel in Kirtland, Ohio, het die ouderlinge van die Kerk saam met die Profeet Joseph Smith bymekaargekom. In Desember die vorige jaar het Joseph ʼn openbaring ontvang wat hom beveel het om ʼn skool te stig hoofsaaklik om die broers vir sendings voor te berei.
“En ek gee aan julle ʼn gebod,” het die Here verklaar, “dat julle mekaar in die leerstellings van die koninkryk sal onderrig.
“Onderrig julle ywerig en my genade sal met julle wees, sodat julle meer ten volle onderrig mag word in teorie, in beginsel, in leer, in die wet van die evangelie, in alle dinge wat betrekking het op die koninkryk van God, wat raadsaam is vir julle om te begryp; …
“Sodat julle voorbereid mag wees in alle dinge wanneer Ek julle weer sal stuur om die roeping waartoe Ek julle geroep het te verheerlik, en die sending wat Ek aan julle opgedra het” (Leer en Verbonde 88:77–78, 80).
Hierdie “Skool van die Profete,” soos dit genoem is, het ʼn wonderlike geestelike uitstorting verskaf. Baie vroeë leiers van die Kerk is daar onderrig. Vandag is die wêreld ʼn heel ander plek, maar die leiding wat die Here destyds gegee het, is steeds ongelooflik toepaslik. Ons moet ook kennis en waarheid “van dinge soos hulle is, en soos hulle was, en soos hulle sal wees” soek (Leer en Verbonde 93:24).
Ons Soeke na Waarheid
In hierdie era waarin ons leef, is meer kennis vir ons beskikbaar as ooit tevore. In die verlede, as jy iets wou weet, moes jy na die biblioteek gaan en dit naslaan. Vandag bied die internet en handtoestelle toegang tot byna eindelose inligting wat ons byna onmiddellik kan vind.
Die Here is bly wanneer ons wyslik gebruik maak van hulpbronne wat tot ons beskikking is, maar Hy het hierdie tydlose raad gegee: “Soek julle ywerig en onderrig mekaar die woorde van wysheid; ja, soek julle uit die beste boeke woorde van wysheid; soek geleerdheid, en wel deur studie en ook deur geloof” (Leer en Verbonde 88:118). Hy moedig ons ook aan om omtrent die wêreld om ons te leer (sien Leer en Verbonde 88:79; 93:53), maar in ons soeke na die waarheid moet ons op God vertrou, wat “alle dinge [begryp], en alle dinge is voor Hom, … en Hy is bo alle dinge, … en alle dinge is deur Hom, en van Hom” (Leer en Verbonde 88:41).
Onder die waarhede wat God vir ons gegee het, is een van die mees fundamentele vir ons lewens op aarde dat Hy ons Hemelse Vader is. Ons is sy geestesseuns en -dogters. Hy ken ons en het ons volkome lief. En as sy geesteskinders, het ons ʼn goddelike aard en bestemming. Om hierdie ewige waarhede te verstaan en te verinnerlik, gee ons identiteit, waarde en doel wat ons geseën en gelei het in ons vooraardse lewe en sal voortgaan om dit nou en vir ewig te doen.
Ons Was Saam met die Vader in die Begin
Wanneer ons die waarheid van dinge soek “soos dit was,” ontdek ons hierdie woorde van ons Saligmaker, Jesus Christus: “En nou, voorwaar Ek sê vir julle, Ek was in die begin met die Vader, en is die Eersgeborene,” en “julle was ook in die begin met die Vader” (Leer en Verbonde 93:21, 23).
Voor ons lewe op aarde het ons ʼn raad in die hemel bygewoon waar ons Hemelse Vader sy groot plan van geluk aangebied het. Die Profeet Joseph Smith het onderrig dat God se motivering vir sy plan “is om ons ʼn voorreg te gee om soos hy te vorder en met Hom verhef te word.” Sy werk en heerlikheid is “om die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring” (Moses 1:39).
Ons het ons handelingsmag uitgeoefen en gekies om Hemelse Vader se plan te volg. Ons is geseënd om in hierdie lewe gebore te word, waar ons voortgaan om handelingsmag te hê en die sterflikheid kan ervaar, leer en vorder na die ewige lewe.
Tydens ons sterflike reis sal ons uitdagings en terugslae ervaar. Maar ons hoef nie die lewe se teëspoed alleen die hoof te bied nie. Joseph Smith het onderrig dat Hemelse Vader, “die Grootouer van die heelal, na die hele mensdom kyk met ʼn vaderlike sorg en vaderlike agting.”
Ons Hemelse Vader, “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting,” sal ons seën, ophef en vertroos “in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3–4). As ʼn noodsaaklike deel van sy plan, het Hemelse Vader die weg vir ons om na Hom terug te keer voorsien.
Die Weg na Ons Vader
Die waarheid “van dinge soos hulle regtig is” (Jakob 4:13) is duidelik: ons kan nie ons volle potensiaal as kinders van ons Hemelse Vader alleen bereik nie. Jesus Christus, die Eersgebore Seun van die Vader in die gees, het ʼn verbond gesluit om ons Saligmaker en Verlosser te wees.
Jesus Christus, “die Eniggeborene van die Vader, vol genade en waarheid, naamlik die Gees van waarheid, … [het] gekom en in die vlees gewoon, en onder ons gewoon” (Leer en Verbonde 93:11). Hy het gekom om ons die weg te wys om geluk, betekenis en vreugde in hierdie lewe en in die ewigheid te vind.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
“Want God het sy Seun nie in die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:16–17).
Die Saligmaker se aardse ervaring is belangrik. Hy het “aanvanklik nie van die volheid ontvang … nie, maar genade op genade ontvang” (Leer en Verbonde 93:12). Hy het gegroei totdat “Hy ʼn volheid van die heerlikheid ontvang het van die Vader” en “alle mag … beide in die hemel en op die aarde, en die heerlikheid van die Vader was met Hom, want hy het in Hom gewoon” (Leer en Verbonde 93:16–17). Die Saligmaker het onderrig:
“Ek gee aan julle hierdie woorde sodat julle mag begryp en weet hoe om te aanbid, en weet wat julle aanbid, sodat julle tot die Vader mag kom in my Naam, en op die bepaalde tyd van sy volheid ontvang.
“Want indien julle my gebooie onderhou, sal julle van sy volheid ontvang, en verheerlik word in My soos Ek is in die Vader; daarom, Ek sê vir julle, julle sal genade op genade ontvang” (Leer en Verbonde 93:19–20).
In die Tuin van Getsémané en aan die kruis, het Jesus Christus die sondes van die wêreld op Hom geneem en alle smarte en “pyne … en verdrukkinge en versoekinge van elke soort” verduur (Alma 7:11). Dit “[het Hom], … die grootste van almal, laat bewe … vanweë pyn, en om te bloei van elke porie” (Leer en Verbonde 19:18). Alleenlik deur Jesus Christus en sy Versoening en Opstanding is heil en verheffing moontlik.
Deur die Saligmaker se genade en soenoffer kan ons groei totdat ons ʼn volheid ontvang en eendag tot volmaaktheid gebring kan word. As ons die voorbeeld van die Saligmaker volg en sy gebooie gehoorsaam, sal Hy ons lei en die pad aanwys op ons pad terug na die heerlike teenwoordigheid van ons Vader in die Hemel.
Christ on the Road to Jerusalem [Christus op die Pad na Jerusalem], deur Michael Coleman, mag nie gekopieer word nie
Sal Jy Sy Gawe Ontvang?
Onder die waarhede “van dinge soos hulle regtig sal wees” (Jakob 4:13), leer ons dat ons ervaring in die ewigheid bepaal sal word deur ons keuse om Jesus Christus te volg en die gawes te ontvang wat Hy bied. Die skrifture leer dat ons sal “geniet wat [ons] bereid is om te ontvang.” Ongelukkig sal sommige nie “gewillig [wees] om dit te geniet wat hulle kon ontvang het nie” (Leer en Verbonde 88:32).
My sendingpresident, Ouderling Marion D. Hanks (1921–2011), wat as ʼn Algemene Gesagsdraer Sewentig gedien het, het sy sendelinge geleer dat om te vra vir wat ons bereid is om te ontvang en te geniet, ʼn manier is waarop ons kan oordeel waar ons op ons geestelike reis is. “Want wat baat dit ʼn mens indien ʼn gawe aan hom geskenk word, en hy aanvaar nie die gawe nie?” Wanneer ons die Saligmaker se gawes ontvang deur Hom ernstig te soek en te volg, sal ons ons verheug in die hoop op die ewige lewe en “in hóm wat die gewer van [daardie] gawe is” (Leer en Verbonde 88:33). Hierdie gawe wat so liefdevol gegee word, “[is] die grootste van al die gawes van God” (Leer en Verbonde 14:7).
God is ons Hemelse Vader. Hy ken ons en het ons lief. Wanneer ons ons tot Hom wend in ons soeke na waarheid, kan ons vashou aan intelligensie, wysheid ontvang, waarheid omhels, deug liefhê en vashou aan lig wat van Hom af kom (sien Leer en Verbonde 88:40). Ons gaan dan lewenslank voort totdat “die dag sal kom dat [ons] selfs vir God sal begryp, omdat [ons] verkwik is in Hom en deur Hom” (Leer en Verbonde 88:49).
Dít sal ʼn heerlike en vreugdevolle dag wees.
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, August 2025. Afrikaans. 19613 501