“Hemelse Vader Wil met Jou Praat,” Liahona, Maart 2025.
Maandelikse Liahona-boodskap, Maart 2025
Hemelse Vader Wil met Jou Praat
Laat jou geloof in Hemelse Vader en sy Geliefde Seun jou help om die sluier te open en die Vader se stem te ontvang.
Ons is seuns en dogters van God wat die aarde deel ver van ons hemelse tuiste af. Hierdie is ons sterflikheid, ʼn tyd om ons liggaam te ontvang, die goeie bó die kwaad te kies, “die bittere [te proe], sodat [ons] mag weet om die goeie te waardeer” (Moses 6:55), ons geloof in ons Saligmaker Jesus Christus en sy heilige Versoening te laat groei, en ons Vader se plan van geluk aan te gryp. Ons is hier om meer soos ons Hemelse Vader te word.
Sonder ʼn herinnering van ons vooraardse lewe, voel ons soms eensaam vir die wêreld wat ons agtergelaat het. Ons Vader het ons ʼn geestelike gawe gegee om met Hom verbind te bly en om leiding, rigting en vertroosting van Hom te ontvang. Ons ken hierdie gawe baie goed; dit word gebed genoem.
Bid tot Jou Hemelse Vader
Aan Adam en Eva en almal wat hulle sou volg, het ʼn engel beveel: “Jy sal bekeer en God vir ewig aanroep in die Naam van die Seun” (Moses 5:8).
Jesus het onderrig: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matthéüs 7:7). “Wanneer jy bid, … bid [tot] jou Vader wat in die verborgene is” (Matthéüs 6:6). “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matthéüs 6:9).
Jesus het aanhoudend tot sy Vader gebid. “Hy het … uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring” (Lukas 6:12). En … Hy [het] na die berg gegaan om te bid” (Markus 6:46). “Toe kom hulle in ʼn plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid” (Markus 14:32). Terwyl Hy aan die kruis was, het Jesus vir die soldate wat Hom gekruisig het, gebid: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34).
Die skrifture raai ons aan om “altyd te bid” (Lukas 21:36; 2 Nefi 32:9; 3 Nefi 18:15; Leer en Verbonde 10:5; 19:38; 20:33; 31:12). “Raadpleeg met die Here in al jou dade, en Hy sal jou ten goede rig” (Alma 37:37). Daarbenewens “[gee ons] al die dank en lof … wat [ons] hele siel die mag het om te besit” (Mosia 2:20), en besef alles wat ons Vader vir ons doen.
President Russell M. Nelson het verduidelik: “Geestelike selfbeeld begin met die besef dat elke nuwe oggend ʼn geskenk van God is. … Hy bewaar ons van dag tot dag en ondersteun ons van een oomblik tot die ander (sien Mosia 2:21).”
Nefi het gesê: “As julle sou ag slaan op die Gees wat ʼn mens leer om te bid, sou julle weet dat julle moet bid; want die bose gees leer ʼn mens nie om te bid nie, maar leer hom dat hy nie moet bid nie” (2 Nefi 32:8).
Detail uit Christ Raising the Daughter of Jairus [Christus Wek die Dogter van Jaïrus Op], deur Greg K. Olsen
Met die voorbeeld van ons Saligmaker en die raad van engele en profete deur die eeue, weet ons vir seker om daagliks te bid om dankbaarheid uit te spreek vir ons seëninge, en om voortdurend ʼn gebed in ons hart te hou. Ons het die verantwoordelikheid om met ons Vader te kommunikeer.
Maar nog heerliker, ons Vader in die Hemel reageer op ons gebede. ʼn Deurdagte vraag in hierdie sterflike wêreld is, hoe kan ons die antwoorde, leiding en vertroosting wat van ons Vader kom, beter ontvang en verstaan?
Deur my lewe van meer as sewe dekades, weet ek dat ons Vader met ons praat. Ons is nie alleen nie. Hemelse wesens waak oor ons en help ons terwyl ons probeer om die Verlosser te volg.
Om antwoorde op ons gebede te ontvang, begin met ons geloof in ons Hemelse Vader en in sy Seun, Jesus Christus. Jesus het gesê: “Moenie vrees nie; glo net” (Markus 5:36). Ons vertrou op Hom, doen ons bes om die gebooie te onderhou en soek sy hand in alle dinge. “In niks gee die mens aanstoot aan God nie … behalwe hulle wat nie sy hand erken in alle dinge nie, en nie sy gebooie gehoorsaam nie” (Leer en Verbonde 59:21).
God se hand in ons lewens beteken nie dat Hy die bose of verskriklike tragedies in ons wêreld veroorsaak nie. Dit beteken egter dat Hy in jou tye van moeilikheid en onregverdigheid by jou sal staan, jou vermoëns sal versterk, jou sal vertroos en “jou verdrukkinge tot jou voordeel heilig” (2 Nefi 2:2).
Hoor Sy Stem
Wanneer ons geloof in Hom het en sy gebooie onderhou, leer ons natuurlik om sy stem beter te hoor.
In September 1993, my eerste jaar as ʼn Algemene Gesagsdraer, het President James E. Faust (1920–2007), destyds ʼn lid van die Kworum van die Twaalf Apostels, my en my vrou, Kathy, genooi om ʼn Brigham Young Universiteit oordenking saam met hom by te woon. Onthou, 1993 was voor die wydverspreide beskikbaarheid van slimfone, sosiale media en die internet.
In sy praatjie, getiteld “The Voice of the Spirit [Die Stem van die Gees]”, het President Faust gewaarsku: “In julle geslag sal julle bestook word deur menigtes stemme wat julle vertel hoe om te lewe, hoe om jul passies te bevredig, hoe om dit alles te hê. Julle sal tot vyfhonderd televisiekanale tot jul beskikking hê. Daar sal allerhande sagteware, interaktiewe rekenaarmodems, databasisse en bulletinborde wees; daar sal lessenaarpublikasie, satellietontvangers en kommunikasienetwerke wees wat julle met inligting sal versmoor. … Die stem wat julle moet leer om op ag te slaan, is die stem van die Gees.”
President Boyd K. Packer (1924–2015), President van die Kworum van die Twaalf Apostels, het van die stil, sagte stem van die Gees onderrig toe hy vertel het van ʼn ervaring van John Burroughs, ʼn natuurkundige, terwyl hy saam met vriende deur ʼn stampvol park gestap het. Hier is President Packer se woorde:
“Bó die geluide van die stadslewe het [Mnr. Burroughs] die sang van ʼn voëltjie gehoor.
“Hy het gestop en geluister! Diegene saam met hom het dit nie gehoor nie. Hy het rondgekyk. Niemand anders het dit opgemerk nie.
“Dit het hom gepla dat almal iets só mooi moes mis.
“Hy het ʼn muntstuk uit sy sak gehaal en dit in die lug gegooi. Dit het die sypaadjie met ʼn geluid getref, niks harder as die lied van die voëltjie nie. Almal het omgedraai; hulle kon dit hoor!
“Dit is moeilik om die sang van ʼn voël van al die geluide van stadsverkeer te skei. Maar jy kán dit hoor. Jy kan dit duidelik hoor as jy oefen om daarvoor te luister.”
President Packer se leringe oor die Heilige Gees het in 1979 plaasgevind, ʼn tyd toe die lewe baie stiller was en die geraas van die wêreld baie meer gedemp was as wat dit nou is.
President Nelson het onderrig: “As jy meer aandag gee aan sosiale media-toevoer as aan die fluisteringe van die Gees, dan stel jy jouself in geestelike gevaar.”
President Faust het gesê: “As ons na die stem van die Gees wil luister, moet ons ook ons ore oopmaak, die oog van geloof na die bron van die stem rig en standvastig na die hemel kyk.”
Hierdie stem van die Gees kom na beide ons intellek en ons gevoelens. “Ek sal vir jou sê in jou verstand en in jou hart deur die Heilige Gees, wat oor jou sal kom en wat in jou hart sal woon” (Leer en Verbonde 8:2). Luister na jou gewete—openbaring begin dikwels daar.
Tydens ʼn besoek aan die Girls’ Home Boys’ Town-kompleks in Markina City, Filippyne, in Februarie 2024, het Ouderling Andersen die jongmense geleer dat hulle kinders van God is: “Hy het julle lief. En julle kan ʼn beroep op Hom doen. Hy sal julle gebede hoor.”
Bid met ʼn Gelowige Hart
Antwoorde en indrukke kan nie afgedwing word nie. Ons bid en ons wag met ʼn gelowige hart. Sommige antwoorde sal nie in hierdie lewe kom nie, maar die Here sal altyd sy vrede aan die regverdiges stuur (sien Johannes 14:27). Antwoorde kom dikwels wanneer ons bid om diegene rondom ons te help. By tye kom hulle “reël op reël, beginsel op beginsel” (Leer en Verbonde 98:12).
Die stem van die hemel kan op onverwagte tye en op onverwagte plekke na ons toe kom, maar ons vind ons mees noemenswaardige geleenthede in stil ruimtes en heilige plekke. In die stilte van my vroeë oggendgebede en bepeinsings, vind ek ongewone seëninge. ʼn Daaglikse, persoonlike, ononderbroke lees van die skrifture, hoewel dit soms roetine is, bring die stem van die Gees in ons harte soos vuur op ander tye.
Soms is die indrukke spesifiek van wat ons lees, en ander kere bring dít wat ons bepeins ʼn antwoord op ʼn heel ander bekommernis. Onthou die woorde van Ouderling Robert D. Hales: “Wanneer ons met God wil praat, bid ons. En wanneer ons wil hê Hy moet met ons praat, ondersoek ons die skrifture.”
Terwyl die geraas en afleidings van die wêreld om ons dwarrel, het die Here sy profeet opdrag gegee om meer en meer tempels te bou. In hierdie heilige huise van die Here, wanneer ons ons uitdagings buite laat, maar ingaan met ons gebede en bekommernisse, word ons die waarhede van die ewigheid geleer.
ʼn Jaar gelede het president Nelson vir ons hierdie merkwaardige belofte gegee: “My liewe broers en susters, hier is my belofte. Niks sal jou méér help om aan die ysterstaaf vas te hou as om so gereeld in die tempel te aanbid as wat jou omstandighede dit toelaat nie. Niks sal jou méér beskerm wanneer jy die wêreld se miswolke van duisternis teëkom nie. Niks sal jou getuienis van die Here Jesus Christus en sy Versoening versterk of jou help om God se grootse plan méér te verstaan nie. Niks sal jou gees méér troos gedurende tye van pyn nie. Niks sal die hemele méér open nie. Niks!”
Elke algemene konferensie bring bykomende oorvloedige seëninge. In die komende maand van April sal ons weer in ʼn algemene konferensie vergader om die stem van die Here te hoor. Ons kom na die algemene konferensie nadat ons gebid en voorberei het. Vir elkeen van ons is daar dringende bekommernisse en ernstige vrae. Ons kom om ons geloof in ons Saligmaker, Jesus Christus, te vernuwe en ons vermoë te versterk om versoeking te weerstaan. Ons kom om van omhoog onderrig te word. Ek belowe julle dat wanneer julle voorberei en biddend na die sessies van die algemene konferensie kom, julle antwoorde op jul bekommernisse sal voel, en julle sal weet dat “die hemel se hand” op julle is.
Glo dat jul Hemelse Vader met julle praat. Hy doen! Laat jul geloof in Hom en sy Geliefde Seun julle help om die sluier te lig en jul Vader se stem te ontvang. Ek getuig dat Hy daar is en julle meer liefhet as wat woorde kan sê.
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, March 2025. Afrikaans. 19605 501