“Seën Al die Families van die Aarde,” Liahona, Mrt. 2026.
Maandelikse Liahona-boodskap, Maart 2026
Seën Al die Families van die Aarde
As ons ons Hemelse Vader se plan vir families volg en deel, sal Hy met ons wees, ons ondersteun en saam met ons gaan op ons reis terug na Hom toe.
Jacob’s Dream at Bethel [Jakob se Droom by Bet-el], deur J. Ken Spencer
Onlangs het ek en Suster Uchtdorf die doop van een van ons agterkleinkinders bygewoon. Terwyl ons gekyk het hoe verskeie geslagte hierdie gebeurtenis met vreugde vier, het ons diep dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader gevoel vir sy heilsplan vir sy kinders. Ons het van die begin af gevoel hoe belangrik familie- en heilige verbonde vir Hom was.
Daardie belangrikheid kan gesien word in die Ou Testamentiese verslag van die getroue Jakob, wat ʼn lang en uitputtende reis onderneem het om ʼn vrou te vind, in die verbond te trou en ʼn familie te vestig. Een aand het Jakob gestop om te rus, maar net klippe vir sy kussing gevind. Hy moes baie moeg gewees het, want hy het nogtans daarin geslaag om aan die slaap te raak—en ʼn droom te hê.
Met sy waardige doelwitte van ʼn verbondshuwelik en familie sekerlik in sy gedagtes, het Jakob “ʼn leer op die aarde opgerig [gesien] waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
“En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak” (Génesis 28:12–13).
Die Here het toe ʼn paar belangrike verbondsbeloftes aan Jakob gemaak—beloftes wat Hy ook met Jakob se vader, Isak, en sy oupa, Abraham, gemaak het, insluitend:
-
Beloftes dat Jakob die vader van “ʼn menigte van volke” sou word (Génesis 28:3; sien ook vers 14).
-
Beloftes van land vir Jakob se nageslag (sien Génesis 28:4, 13).
-
Beloftes dat “al die geslagte van die aarde [deur Jakob en sy] nageslag … geseën sal word” (Génesis 28:14; beklemtoning bygevoeg).
Só heilig was Jakob se ondervinding dat hy verklaar het: “Waarlik, die Here is op hierdie plek … Dit is … niks anders as ʼn huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel” (Génesis 28:16–17). En so het Jakob die area Bet-el genoem (Génesis 28:19).
Die beloofde seëninge wat in Jakob se droom gegee is, het vereis dat Jakob figuurlik in die werklike lewe moes klim. As Heiliges van die Laaste Dae is dit nie moeilik om ʼn verband te sien tussen Jakob se droom, die Here se verbonde, en die huis van die Here nie. Tempels is baie soos daardie leer wat Jakob gesien het. Die leringe, ordinansies en verbonde van die huis van die Here verbind hemel en aarde. Die verbonde kan vergelyk word met trappe van ʼn leer wat ons nader aan die Here bring. En, deur die heilige diens wat ons in heilige tempels lewer, seën ons “al die families van die aarde”—verlede, hede en toekoms.
“Wat ʼn Ontdekking!”
Ouderling Bruce C. Hafen, ʼn emeritus-lid van die Sewentig, het eens ʼn oproep van die redakteur van ʼn nasionale nuustydskrif ontvang. Die redakteur wou praat oor ʼn onlangse boek wat die geskiedenis van oortuigings oor die hemel oor verskeie godsdienste ondersoek.
“Die outeurs het gevind dat die publiek ʼn wydverspreide honger na die hemel—en families in die hemel—voel,” het Ouderling Hafen geskryf. Maar terwyl die meeste mense steeds in lewe ná die dood, ewige liefde en hemelse familie-reünies geglo het, bied “meeste Christelike kerke min reaksie op hierdie innerlike honger”—met een uitsondering: Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.
In die Saligmaker se herstelde Kerk het ons heilige tempels. Ons het ʼn ewige huwelik, met verseëlingsgesag wat seën bó fisiese dood. Ons het die belofte van ʼn ewige toekoms met geliefdes in die teenwoordigheid van die Vader en die Seun. Gegewe dit alles, het die outeurs tot die gevolgtrekking gekom dat die Heiliges van die Laaste Dae-konsep van die hemel die volledigste is—en, ek wil byvoeg, die gelukkigste.
“Wat ʼn ontdekking!” het Ouderling Hafen opgemerk. “Die meeste mense vandag verlang na ewige families, en die [herstelde evangelie van Jesus Christus] vervul daardie verlange beter as enige ander bekende stel idees [of godsdienstige geloofsoortuigings]. Ek wens die hele wêreld kon hoor hoe [ons] kinders die blye nuus sing: ‘Families can be together forever.’”
Families is nie net ʼn gerieflike sosiale reëling nie. Hulle is die ewige patroon van die hemel. Hulle is “sentraal tot die Skepper se plan vir die ewige bestemming van sy kinders.” Soos President Russell M. Nelson (1924–2025) ons geleer het: ”[Die Here] het die aarde geskep [sodat] ons fisiese liggame kon kry en families kon skep. Hy het sy Kerk gestig om families te verhef. Hy voorsien tempels sodat families vir altyd saam kan wees.”
Maar ons belangstelling in sterk families gaan nie net oor ewige bestemmings nie. Die familie speel ook ʼn noodsaaklike rol in ons sterflike geluk. Ons Hemelse Vader, wat perfek weet wat nou en vir ewig geluk bring, stuur sy kinders na families—hoe onvolmaak hulle ook al mag wees—en nooi ons uit om sterk families te bou en te koester. Natuurlik kan “gestremdheid, dood of ander omstandighede individuele aanpassing vereis.” Maar niks kan die noodsaaklike, goddelik aangewese verantwoordelikhede van man en vrou, vader en moeder vervang nie.
Navorsing oor “biologiese, gebonde, twee-ouer gesinne” toon steeds dat die familie onontbeerlik is om “diep bande van liefde en toegeneëntheid” te bewaar. Dit is “die primêre broeikas vir stabiele, goed aangepaste en sosiaal-bewuste individue.”
Ywerige Verdedigers van die Familie
Natuurlik behoort dit ons nie te verbaas dat iets só belangrik vir God se plan teenstand sou kry nie. Satan was nog nooit familie-vriendelik nie, en sy pogings word net meer dringend “omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Soos President M. Russell Ballard (1928–2023), Waarnemende President van die Kworum van die Twaalf Apostels, gesê het: “Satan weet dat die sekerste en doeltreffendste manier om die Here se werk te ontwrig, is om die doeltreffendheid van die familie en die heiligheid van die tuiste te verminder.”
Met die kennis van wat ons weet van God se ewige familie, sy plan vir sy kinders, en die ewige betekenis van familie-verhoudings, behoort ons onder die wêreld se ywerigste verdedigers van die familie te wees.
Hoe doen ons dit?
President Dallin H. Oaks het hierdie raad aangebied: “Die familieproklamasie … is die Here se herbeklemtoning van die evangelie-waarhede wat ons nodig het om ons deur huidige uitdagings vir die familie te dra.”
In ons persoonlike lewens kan ons die “klein en eenvoudige dinge” doen (Alma 37:6) wat familie-verhoudings versterk. Dit sluit in om die beginsels van suksesvolle families en huwelike te volg soos uiteengesit in die familieproklamasie: “geloof, gebed, bekering, vergifnis, respek, liefde, deernis, werk en gesonde ontspanningsaktiwiteite.” Ongeag ons huidige familiesituasie, kan ons deur ons optrede wys dat familieverhoudings vir ons ewig belangrik is.
As “verantwoordelike burgers” in ons gemeenskappe kan ons “daardie maatreëls bevorder wat ontwerp is om die familie te behou en te versterk.”
Ons is die Here se verbondsvolk van die laaste dae. Ons is erfgename van die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jakob gemaak is—beloftes wat alles met families te doen het. Daardie beloftes kom met die heilige roeping om “al die families van die aarde” te seën. En een belangrike manier waarop ons dit doen, is deur die ewige waarheid uit te leef, te verdedig en te deel dat “die familie deur God geordineer is” en dat “ordinansies en verbonde wat in heilige tempels beskikbaar is, dit moontlik maak vir individue om na die teenwoordigheid van God terug te keer en vir families om vir ewig verenig te wees.”
“Ek is met Jou”
Wanneer ek en Suster Uchtdorf kyk hoe ons familielede heilige verbonde sluit met ons liefdevolle, ewige Hemelse Vader, vul ons harte met vreugde en dankbaarheid. Ons juig nie net oor ons kinders en hul kinders nie, maar ook oor ons ouers en hul ouers. Ons bepeins met diep liefde oor hoe evangelieverbonde ons oor geslagte heen verenig. Dit is ʼn ervaring soortgelyk aan om “ʼn leer op die aarde opgerig [te sien], waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opklim en neerdaal” (Génesis 28:12).
Die seëninge wat die Here aan Jakob in sy droom belowe het, strek na al sy verbondskinders—insluitend jou en my. Soos die Here vir Jakob gedoen het, sal Hy ons antwoord “in die dag van [ons] benoudheid” (Génesis 35:3) as ons Hom kies.
“En kyk,” het die Here gesê: “Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, … want Ek sal jou nie verlaat nie” (Génesis 28:15).
Soos Jakob, het ons almal ʼn wildernis om oor te steek. Soms lyk die beloofde seëninge ver weg. Wanneer ernstige probleme of uitdagings opduik, mag ons die Here se liefde bevraagteken. Ons mag selfs voel dat God ons verlaat het. Ten spyte van ons beste pogings tot dissipelskap, mag ons voel ons ontvang nie die seëninge waarop ons gehoop het nie.
Broers en susters, liewe vriende, die verbondspad is ʼn vreugdevolle pad, al is dit soms met trane bevlek. As jy voel dat dele van die plan van geluk nie nou in jou lewe vervul word nie, vertrou asseblief dat die Here bewus is van jou en jou op sy regte tyd sal seën, volgens sy wysheid.
Geloof in Jesus Christus en sy beloftes inspireer ons om vorentoe te kyk, nie agtertoe nie. As gevolg van Hom hoef ons toekoms nie gevange gehou te word deur enigiets wat in die verlede gebeur het of nou ons uitsig blokkeer nie. Ja, ons almal is, of sal wees, op een of ander manier gewond. Maar ons glo in die Groot Geneser. Ons vertrou Hom—so baie, in werklikheid, dat ons sy beloftes omhels, ten volle “glo en begroet” selfs wanneer dit nog in die “verte” is (Hebreërs 11:13).
“Laat ons almal onthou dat, op die Here se eie manier en tyd, geen seëninge van sy getroue Heiliges weerhou sal word nie,” het President Nelson gesê. “Die Here sal elke individu oordeel en beloon volgens opregte begeerte sowel as daad.”
Ek belowe dat terwyl ons ons Hemelse Vader se plan vir families volg en deel, Hy by ons sal wees, ons sal ondersteun en saam met ons op ons reis sal wees. Hy sal ons nooit alleen laat nie, veral nie wanneer beproewings na ons of ons geliefdes kom nie. Hy sal ons dra, ophef, en na die beloofde land van ʼn volheid van vreugde bring saam met Hom, met sy Seun, Jesus Christus, en met ons families—vir ewig.
© 2026 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, March 2026. Afrikaans. 19937 501