2025
Verbonde, Krag en Beloftes
Oktober 2025 Liahona


"Verbonde, Krag en Beloftes," Liahona, Okt. 2025.

Maandelikse Liahona-boodskap, Oktober 2025

Verbonde, Krag en Beloftes

Die tempel is sentraal tot die krag en beskerming wat aan die gelowiges voor die Tweede Koms van die Here Jesus Christus belowe is.

illustrasie van Joseph Smith wat voor die Kirtland-tempel staan

Illustrasie van Joseph Smith deur Dan Burr

In Mei 1833 het my groot-groot-groot-oupa Asahel Perry en ʼn paar vriende van noord New York na Kirtland, Ohio gereis. Hulle was nie lede van die nuut-herstelde Kerk nie, maar hulle wou die Profeet Joseph Smith ontmoet. Hulle het net betyds aangekom om die eerste raadsvergadering by te woon wat gehou is om die bou van die Kirtland-tempel te bespreek.

Nadat die raadsvergadering begin het, het die Profeet die aangeleentheid van die bou van die tempel voorgelê. Hy het toe ʼn beroep gedoen op diegene teenwoordig om hulle gevoelens uit te spreek wat verband hou met so ʼn groot onderneming. Die meeste het gereageer dat die Kerk te arm was om só ʼn taak aan te pak. Hulle het die konstruksie van ʼn kleiner, goedkoper gebou voorgestel.

Gedurende die daaropvolgende bespreking het Oupa Perry en sy vriende saamgekom, hul geld uitgehaal en bymekaargetel. Het hulle genoeg gehad om te betaal vir hul terugreis en by te dra tot die tempel se konstruksie? ʼn Paar minute later het my oupa Joseph Smith genader, ʼn vyf-dollar goue muntstuk uitgehaal en dit vir die Profeet aangebied. (Só ʼn muntstuk sal vandag honderde dollars werd wees!)

Joseph het voor die raad gestaan en die muntstuk opgehou. Toe het hy vol energie gepraat en gesê dat “die werk begin het en die Huis [van die Here] gebou sou word volgens die patroon wat gegee is” deur die Here Jesus Christus.

Die Perry-familie het kort daarna by die Kerk in Kirtland aangesluit, hulle tempelseëninge ʼn paar jaar later in die Nauvoo-tempel ontvang, en later die vlaktes na Utah oorgesteek.

Teen die tyd dat die Kirtland-tempel in 1836 toegewy is, was dit te klein om al die Heiliges van die Laaste Dae te hou wat sy toewyding wou bywoon. Soos wat die Kerk gegroei het, so het die getalle Heiliges wat vergaderings in die buitelug moes bywoon, gegroei. President James E. Faust (1920–2007), wat as my penpresident gedien het toe ek ʼn jong man was en as ʼn mentor toe ek in 2007 as ʼn Algemene Gesagsdraer geroep is, het hierdie waarneming aangaande die Kerk se tweede tempel gemaak:

“Voordat die Nauvoo-tempel in 1846 voltooi is, sou die Heiliges buite, dikwels naby die tempel vergader om Joseph en die ander Kerkleiers te hoor praat. Soms het duisende daardie vergaderings bygewoon”—somtyds selfs in gure weer.

“Soos [Ouderling] George A. Smith op sy humoristiese manier opgemerk het, ‘In die dae van die Profeet Joseph het [die Kerk] die beste buitemuurs floreer.’”

Ons is dankbaar dat Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae in ons dag buitemuurs, binnemuurs en dwarsdeur die wêreld floreer. Daardie florering sluit die konstruksie van tempels teen ʼn ongekende tempo in “volgens die patroon wat gegee is”—ʼn patroon wat nog altyd seëninge, toewyding, geloof en opoffering ingesluit het.

illustrasie van die Kirtland-tempel

A Glorious Light—Kirtland Temple [ʼn Glorieryke Lig—Kirtland-tempel, deur Glen S. Hopkinson, mag nie gekopieer word nie

Hoekom So Baie Tempels?

“Ons voorgangers het geprofeteer dat tempels die landskap van Noord- en Suid-Amerika sal vul, die eilande van die Stille Oseaan, Europa en elders,” het President Eza Taft Benson (1899–1994) ʼn paar dekades gelede gesê. “Indien hierdie verlossende werk op dié skaal gedoen moet word, sal honderde tempels nodig wees.”

President Russell M. Nelson het gesê dat ons vandag tempels teen ʼn ongekende tempo bou “omdat die Here ons beveel het om dit te doen. Die seëninge van die tempel help om Israel aan beide kante van die voorhangsel te versamel. Hierdie seëninge help ook om ʼn volk voor te berei wat sal help om die wêreld vir die Tweede Koms van die Here voor te berei!”

In sy toewydingsgebed van die Kirtland-tempel het Joseph Smith gebid “dat al die mense wat die drumpel van die Here se huis binnegaan, u mag kan voel. …

“En ons vra U, Heilige Vader, dat u diensknegte vanaf hierdie huis mag uitgaan bewapen met u mag, en dat u Naam op hulle mag wees, en u heerlikheid rondom hulle wees, en u engele opdrag hê aangaande hulle” (Leer en Verbonde 109:13, 22; klem bygevoeg; sien ook vers 23).

Wanneer ek daardie verse lees, dink ek aan Nefi se visioen van die laaste dae. Let op die soortgelyke bewoording: “En dit het gebeur dat ek, Nefi, die mag van die Lam van God gesien het, dat dit neergedaal het op die heiliges van die kerk van die Lam, en op die verbondsvolk van die Here, wat verstrooi was oor die hele aangesig van die aarde; en hulle was bewapen met regverdigheid, en met die krag van God in groot heerlikheid” (1 Nefi 14:14; klem bygevoeg).

Ek glo dat tempels van die laaste dae ʼn noodsaaklike rol speel in die vervulling van Nefi se profesie en sentraal is tot die beskerming en krag wat aan die gelowiges voor die Tweede Koms belowe is.

ʼn Paar jaar gelede, terwyl ek as die biskop van ʼn universiteitswyk gedien het, was ek veral beïndruk met een jong vrou in my wyk. Sy beïndruk my steeds. Julle ken haar as President Emily Belle Freeman, Jongdames Algemene President. In ʼn onlangse algemene konferensie toespraak het sy onderrig dat Jesus Christus ons deur die tempel, na ʼn hoër geestelike vlak lig.

“Elke keer as ek die drumpel van sy huis oorsteek, ervaar ek ʼn dieper verbondsverhouding met Hom,” het President Freeman gesê. “Ek word geheilig deur sy Gees, begiftig met sy krag, en afgesonder om sy koninkryk te bou.”

Beloofde Krag

President Nelson het dikwels gepraat oor die krag van Jesus Christus wat deur tempelverbonde beskikbaar is. “Deur julle met die Saligmaker te verbind, beteken dat julle toegang het tot sy sterkte en verlossende krag,” het hy gesê. President Nelson het ook onderrig:

“Wanneer ons ons tempelverbonde onderhou, verkry ons groter toegang tot die Here se versterkende krag. In die tempel ontvang ons beskerming teen die teisterings van die wêreld.”

“[Die Saligmaker se] noodsaaklike ordinansies bind ons aan Hom deur heilige priesterskapverbonde. Dan, terwyl ons ons verbonde onderhou, skenk Hy ons sy genesende, versterkende krag. En O, hoe sal ons sy krag nodig hê in die dae wat voorlê.”

“Die morele en geestelike krag wat ons mense nou en vir die dae wat voorlê nodig het, is die krag van God die Vader en sy Seun, Jesus Christus. Ons kry toegang tot hulle krag deur verbonde met Hulle te sluit en te onderhou.”

Hemelse krag maak saak, broers en susters, want ons lewe in ʼn baie goddelose wêreld. Sonder daardie krag sal ons nie in staat wees om “die dag van sy koms te verdra” of te “kan standhou as Hy verskyn” nie (Maleági 3:2). Ons weet nie wanneer daardie dag sal wees nie, maar sy boodskapper is alreeds gestuur om “die weg te baan” vir sy koms (Maleági 3:1). Intussen gly die wêreld nie rustig voort na daardie dag nie.

Ons het die krag nodig wat aan die gelowiges belowe is om ons te help:

  • Om God in ons lewens te laat seëvier.

  • Om te bekeer en nader aan die Here te kom.

  • Om te seën, te vertroos, te lei en te dien.

  • Om ons “beproewings, versoekings en hartseer beter” te weerstaan (sien Mosia 3:19).

  • Om vrede en vreugde in Christus te vind terwyl ons die verbondspad stap.

  • Om voor te berei teen “die dag van verbranding” en “die rampspoed van die bose” (Leer en Verbonde 109:46).

  • Om die Here se werk te volbring voor sy Tweede Koms.

Tucson Arizona-tempel

Foto van die koepel van die Tucson Arizona-tempel deur James Whitney Young

Wagte van Heil

Hemelse Vader se werk en heerlikheid is om “die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring” (Moses 1:39). Elke tempel staan as ʼn aardse wag van God se heilsplan, wat wys na die Saligmaker se sentrale rol in daardie werk en heerlikheid.

Gewapen met sy krag, sal elke verbondsonderhoudende man en vrou—getroud of nie—wat getrou tempelverbonde onderhou, in hierdie lewe en in die lewe wat daarna kom, geseën word.

President Nelson het belowe: “Die einde waarna elkeen van ons strewe is om met mag begiftig te word in ʼn huis van die Here, verseël as families, getrou aan die verbonde wat ons in ʼn tempel gesluit het wat ons kwalifiseer vir die grootste gawe van God—die ewige lewe. Die ordinansies van die tempel en die verbonde wat jy daar sluit is die sleutel om jou lewe, jou huwelik en familie te versterk, en jou vermoë om aanvalle van die teenstander te weerstaan. Jou aanbidding in die tempel en jou diens daar vir jou voorouers sal jou seën met toenemende persoonlike openbarings en vrede en sal jou begeerte om op die verbondspad te bly, versterk.”

As ʼn Apostel van die Here Jesus Christus getuig ek dat hierdie dinge waar is.

Notas

  1. Sien Stephen C. Perry brief aan Wilford Woodruff, 21 Nov. 1884, Church History Library, catalog.ChurchofJesusChrist.org.

  2. James E. Faust, “Salt Lake Tabernacle Rededication,” Liahona, Mei 2007, 39.

  3. The Teachings of Ezra Taft Benson (1988), 247.

  4. Russell M. Nelson, “Die Here Jesus Christus Sal Weer Kom,” Liahona, Nov. 2024, 121.

  5. Emily Belle Freeman, “Walking in Covenant Relationship with Christ,” Liahona, Nov. 2023, 79.

  6. Russell M. Nelson, “Oorwin die Wêreld en Vind Rus,” Liahona, Nov. 2022, 97.

  7. Russell M. Nelson, “Die Here Jesus Christus Sal Weer Kom,” 121.

  8. Russell M. Nelson, “The Temple and Your Spiritual Foundation,” Liahona, Nov. 2021, 94.

  9. Russell M. Nelson, in Kevin W. Pearson, Utah Area Broadcast, Nov. 20, 2024, utah.ChurchofJesusChrist.org.

  10. Sien Neil L. Andersen, “Spiritual Whirlwinds,” Liahona, Mei 2014, 18.

  11. Russell M. Nelson, “Oorwin die Wêreld en Vind Rus,” 96.

  12. Russell M. Nelson, ”Soos Ons Saam Voorwaarts Gaan," Liahona, Apr. 2018, 7.