2025
Vind Vreugde in Jou Evangeliereis
Julie 2025


“Vind Vreugde in Jou Evangeliereis,” Liahona, Julie 2025.

Maandelikse Liahona-boodskap, Julie 2025

Vind Vreugde in Jou Evangeliereis

Die uiteindelike uitkoms van ons liefde vir die Here deur sy gebooie te onderhou, is seëninge wat geluk en vreugde bring.

glimlaggende kerklede in Thailand

Foto van verheugde kerklede in Thailand deur Christina Smith

Terwyl ek ʼn paar jaar gelede as sendingleier in Japan gedien het, het ek ʼn naweekkonferensie in ʼn plattelandse stad in een van die verste uithoeke van ons sending bygewoon. Die distrikspresident het gereël dat ek ʼn onderhoud voer met ʼn man wat ʼn jaar tevore by die Kerk aangesluit het en ʼn tempelaanbeveling wou ontvang. Hy het gehoop om sy eie begiftiging op of naby die eenjarige herdenking van sy doop te ontvang.

Gedurende ons gesprek het hierdie nuwe lid beskryf hoe innig dankbaar hy was vir die oorvloedige seëninge wat hy ontvang het in die jaar sedert hy gedoop is. Hy het dit geniet om weeklikse nagmaaldienste en ander vergaderings by te woon. Hy het diep betrokke geraak by die bedrywighede van sy tak. Vir my het hy ʼn verbondsvertroue uitgestraal as gevolg van die begrip van sy evangeliedoel, wat nou ʼn integrale deel van hom was. Hy was ʼn bekeerde dissipel van Christus wat ʼn geweldige verandering van hart beleef het (sien Mosia 5:2).

Die res van ons gesprek het ʼn hoopvolle patroon gevolg. Ons het die ordinansies en verbonde bespreek wat deel van sy tempelervaring sou wees. Hy het elkeen van die standaardvrae wat verband hou met die ontvangs van ʼn tempelaanbeveling bevestigend beantwoord.

Ná die onderhoud onthou ek dat ek aan die distrikspresident gesê het hoe dankbaar ek was om so ʼn uitsonderlike man te ontmoet. Ek het vir hom gesê hoe beïndruk ek was dat die sendelinge en lede iemand van so ʼn kaliber en belofte gevind en geestelik gekoester het.

Ek was verstom toe die distrikspresident vertel het dat toe hierdie man meer as ʼn jaar tevore lesse van die sendelinge begin ontvang het en kerk toe gegaan het, hy haweloos en in uiters moeilike—byna hopelose—omstandighede was. Die distrikspresident het toe beskryf hoe hierdie broer se studie van die evangelie en sy bekering oor ʼn tydperk van maande tot sy wonderbaarlike verandering gelei het, wat hom op ʼn pad van beide geestelike en fisiese selfonderhouding geplaas het en hom ʼn gevoel van doelgerigtheid en vreugde gegee het.

Die evangelie het hom ʼn duidelike beeld gegee van die doel van sy lewe. Eenvoudige en kosbare evangeliewaarhede het antwoorde op belangrike vrae oor sterflikheid gebring, beginnende met die wete dat “God ons Hemelse Vader is en ons is sy kinders. … God ken ons persoonlik en het ons lief.” In sy plan “het Hemelse Vader … baie gawes en gidse voorsien om ons te help om na sy teenwoordigheid terug te keer.”

Dit was die seëning vir hierdie man, wat ewe beskikbaar is vir al God se kinders deur die evangelie van Jesus Christus.

Die Doel van die Lewe

Omdat Jesus Christus sy evangelie deur die profeet Joseph Smith herstel het, “het ons ʼn begrip van die doel van die lewe, van wie ons is,” het president M. Russell Ballard (1928–2023) verklaar. In sy laaste getuienis aan die Kerk, het President Ballard, destydse waarnemende president van die Kworum van die Twaalf Apostels, gesê:

“Ons weet wie God is; ons weet wie die Saligmaker is, want ons het Joseph, wat as ʼn seun in ʼn bos bome ingegaan het en vergifnis vir sy sondes gesoek het. …

“Ek verwonder my, en ek is seker dat baie van julle dit ook doen, oor hoe geseënd ons is om te weet wat ons weet van ons doel in die lewe, hoekom ons hier is, wat ons in ons daaglikse lewens moet probeer doen en bereik.”

Vir lede van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae sluit daardie kennis ʼn begrip van God se “volmaakte heilsplan” in. Dit staan ook bekend as “die groot plan van geluk”, “die plan van verlossing” en “die plan van barmhartigheid” (Alma 42:8, 11, 15), en “neem die verborgenheid uit die lewe en die onsekerheid uit ons toekoms”. Noodsaaklik vir daardie plan is “die leer van Christus,” wat sentraal staan tot die doel van die lewe.

Omdat ons die evangelie het, weet ons dat ons kinders van God is, wat na die aarde gestuur is om beproef, gepoleer en voorberei te word “deur die opstanding van die dode, deur die triomf en die heerlikheid van die Lam” (Leer en Verbonde 76:39). Ons ken die gebooie en word “voldoende onderrig sodat [ons] goed van kwaad kan onderskei” (2 Nefi 2:5). Ons weet ons is op die aarde om lief te hê en te dien. En ons weet dat die Saligmaker ons geroep het om die wêreld te oorwin en ander te help om dieselfde te doen (sien Johannes 16:33; Leer en Verbonde 64:2) ter voorbereiding vir sy Tweede Koms.

Wanneer ons op Hom fokus, sal wat Joseph Smith “die bemoedigende geluid van die Evangelie van ons Here Jesus Christus” genoem het, ons gedurende moeilike dae versterk en betekenis en doel in ons lewens en die lewens van ander bring.

Jesus Christus

Every Knee Shall Bow [Elke Knie Sal Buig], deur Dan Wilson, mag nie gekopieer word nie

Gehoorsaamheid, Seëninge, Vreugde

God het ons morele handelingsmag gegee sodat ons aanspreeklik kan wees vir ons keuses (sien Leer en Verbonde 101:78; 2 Nefi 2:16). As deel van “ʼn teenstelling in alle dinge” (2 Nefi 2:11), word Satan toegelaat om ons in versoeking te bring om ons handelingsmag te misbruik.

Maar die Here Jesus Christus, “wetende die rampspoed wat sou kom oor die inwoners van die aarde” in ons dag, het die Profeet Joseph Smith geroep “en met hom vanuit die hemel gespreek, en hom gebooie gegee (Leer en Verbonde 1:17). Daardie patroon waardeur die Here sy gebooie en wil aan sy profete openbaar, gaan in ons dag voort met President Russell M. Nelson—en om dieselfde rede. God begeer om ons na geluk in hierdie lewe en na hemelse heerlikheid in die volgende lewe te lei.

Gehoorsaamheid aan God se gebooie moet kom uit ons toewyding aan en liefde vir Hom. Die Here Jesus Christus self het verkondig dat om God lief te hê “die eerste en groot gebod” is (sien Matthéüs 22:37–38). Hy het verdere insig gegee toe Hy verkondig het: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15).

Daar is ʼn beloning om die Here lief te hê en sy gebooie te onderhou. In hierdie bedeling beskryf Hy “ʼn wet, onherroeplik uitgevaardig in die hemel … , waarop alle seëninge gegrond is—

“En wanneer ons enige seëning van God ontvang, is dit deur gehoorsaamheid aan daardie wet waarop dit gegrond is” (Leer en Verbonde 130:20–21).

Die uiteindelike uitkoms van ons liefde vir die Here deur sy gebooie te onderhou, is dus seëninge wat geluk en vreugde bring.

Om na die lewe deur die lens van die herstelde evangelie en hedendaagse openbaring te kyk, gee ons duidelikheid. Met ʼn duidelike perspektief van ons goddelike oorsprong en bestemming, weet ons dat “die einste dinge wat [ons] sterflike lewe die beste sal maak wat dit kan wees, is presies dieselfde dinge wat [ons] lewe tot in alle ewigheid die beste sal maak wat dit kan wees!”

Slotsom

Ek eindig waar ek begin het, en onthou my ervaring jare gelede met ʼn onlangse bekeerling in Japan. Deur sy ywer en die ywer van sendelinge en lede het hy die herstelde evangelie van Jesus Christus gevind. Toe hy die evangelie gevind het, het hy ook sy doel ontdek, wat sy visie uitgebrei het. Hy het ook die groot plan van geluk gevind. Gehoorsaamheid aan die plan se evangelieverbonde het vir hom seëninge en vreugde gebring en hom fisies en geestelik opgehef.

Sy reis wat gelei het tot lidmaatskap van die Kerk van Jesus Christus, het hom in staat gestel om ʼn getuie van Jesus Christus te word. Ouderling Patrick Kearon van die Kworum van die Twaalf Apostels het die vreugde wat volg, beskryf:

“As gevolg van die liefdevolle plan van ons Hemelse Vader vir elkeen van sy kinders, en as gevolg van die verlossende lewe en sending van ons Saligmaker, Jesus Christus, kan—en behoort—ons die vreugdevolste mense op aarde te wees! Selfs terwyl die storms van die lewe in ʼn wêreld wat dikwels in beroering is, op ons neerkom, kan ons ʼn groeiende en blywende gevoel van vreugde en innerlike vrede kweek as gevolg van ons hoop op Christus en ons begrip van ons eie plek in die pragtige plan van geluk.”

Ek bied my dankbaarheid vir en getuienis van die herstelde evangelie van Jesus Christus, insluitend die groot plan van geluk wat so diep daarin ingebed is. Ek nooi julle uit om deel te hê aan die vrugte van die evangelie en om meer vreugde in hierdie lewe te voel op jul reis na die ewige lewe.

Notas

  1. Preach My Gospel: A Guide to Sharing the Gospel of Jesus Christ (2023), 31, 48.

  2. M. Russell Ballard, “Praise to the Man,” Liahona, Nov. 2023, 74, 75.

  3. Russell M. Nelson, “Dink Selestiaal!,” Liahona, Nov. 2023, 117.

  4. Russell M. Nelson, “Dink Selestiaal!,” 117.

  5. The Restoration of the Fulness of the Gospel of Jesus Christ: A Bicentennial Proclamation to the World,” Evangeliese Biblioteek; sien ook Russell M. Nelson, “Hoor Hom,” Liahona, Mei 2020, 91–92.

  6. Russell M. Nelson, “Oorwin die Wêreld en Vind Rus,” Liahona, Nov. 2022, 95–98.

  7. Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith (2011), 151.

  8. Russell M. Nelson, “Dink Selestiaal!,” 117.

  9. Patrick Kearon, “Welcome to the Church of Joy,” Liahona, Nov. 2024, 36.