2025
Hulp van Jesus Christus: Die Waarom en Hoe
April 2025


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, April 2025

Hulp van Jesus Christus: Die Waarom en Hoe

Verstaan waarom Jesus Christus die antwoord is en hoe Hy jou help.

Jesus Christus

Illustrasie deur Dan Wilson

“Ek voel asof ek aanhou droogmaak. Dit is moeilik om aan te hou probeer.”

“My situasie is moeilik. Ek is nie seker hoe om te vorder nie.”

“Ek is bekommerd oor die toekoms. Ek weet nie of ek het wat nodig is om sukses te behaal nie.”

“Ek is uitgeput, maar daar is nog meer om te doen.”

Kan jy jou met enige van hierdie probleme vereenselwig? President Russell M. Nelson het geleer: “Watter vrae of probleme jy ook al het, die antwoord word altyd in die lewe en leringe van Jesus Christus gevind” (“Die Antwoord Is Altyd Jesus Christus,” Apr. 2023 algemene konferensie [Liahona, Mei 2023, 127]).

Dit is maklik om te : “Jesus Christus is die antwoord.” Dit verg ʼn bietjie meer moeite om te verstaan waarom en hoe Hy die antwoord is.

Hoekom is Christus die Antwoord?

Toe Hy sy soenoffer verduur het, het die Saligmaker drie belangrike dinge gedoen:

  1. Hy het die dood oorwin wat ons toelaat om opgewek te word.

  2. Hy het die prys vir alle sondes betaal en dit vir ons moontlik gemaak om ons te bekeer, te groei en na God terug te keer. Dit help ons ook om ander te vergewe wanneer hulle sondig, want Christus het hulle sondes op Homself geneem.

  3. Hy het alle pyne, verdrukkinge, versoekinge, siektes en krankhede verduur (sien Alma 7:11–13). Dit beteken Hy weet presies hoe om jou te help en te genees en jou kan versterk om beproewings te verduur en daarna te streef om beter te word.

Kies enige probleem, en jy kan die oplossing terugkoppel aan een of meer van daardie drie waarhede.

Armoede? Omdat Jesus Christus alle dinge beleef het, weet Hy presies hoe dit is. Hy verwyder nie altyd die struikelblok nie, maar Hy kan mense versterk wat daardie las dra (sien Mosia 24:15).

Mislukking? Omdat Christus sonde oorwin het, hoef ons mislukkings nie permanent te wees nie. Bekering sluit in om te verbeter en meer van die persoon te word wat Hy weet ons kan wees.

Siekte? Omdat Hy die dood oorwin het, sal ons opgewek word met volmaakte liggame wat immuun is teen siekte en pyn. Christus het ook “siektes … op Hom [geneem]” (Alma 7:11), wat Hom die perfekte persoon maak om vertroosting en ondersteuning te bied.

Hoe Help Christus?

Maar selfs wanneer ons weet waarom die Saligmaker die antwoord is (as gevolg van wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het), moet ons steeds weet hoe ons hulp en krag van Hom kry. Hier is ʼn paar maniere:

Gebed. Deur in die Naam van Jesus Christus te bid, kan onvolmaakte mense soos ons met ʼn volmaakte God praat. Ons kan bid vir die krag wat ons nodig het in enige situasie, en God sal antwoord—nie altyd op die manier wat ons wil hê of verwag nie, maar op ʼn manier wat ons sal seën. Die Saligmaker se uitnodiging is eg: “Vra, en julle sal ontvang” (Johannes 16:24; 3 Nefi 27:29; Leer en Verbonde 4:7).

Die Gawe van die Heilige Gees. Hemelse Vader, Jesus Christus, en die Heilige Gees is verenig in doel. Hulle werk saam! Wanneer jy ook al leiding of vertroosting van die Heilige Gees voel, kan jy dit verstaan as Christus wat jou ook help.

Onderhouding van Verbonde. Ouderling Dale G. Renlund van die Kworum van die Twaalf Apostels het geleer: “Die term verbondspad verwys na ʼn reeks verbonde waardeur ons na Christus kom en met Hom verbind. Deur hierdie verbondsband het ons toegang tot sy ewige krag” (Apr. 2023 algemene konferensie [Liahona, Mei 2023, 36]).

Genade. Wanneer ons geloof in Jesus Christus beoefen en ons bekeer, kan ons bykomende hulp en krag ontvang (ook genoem genade) om dinge te bereik wat ons nie op ons eie sou kon doen nie (sien Gids tot die Skrifture, “Genade”). Hierdie krag, of genade, kan op baie maniere kom: van die Heilige Gees, ʼn vriend, ʼn vreemdeling, ʼn gevoel. Basies kom enigiets goeds van Christus af (sien Moroni 7:22). Wanneer jy net ʼn bietjie meer geduld, ʼn bietjie meer energie, ʼn bietjie meer krag vind om te volhard, erken dit as Christus wat jou help.

Onthou Waarom en Hoe

Dus, die volgende keer as jy ʼn antwoord op ʼn vraag of probleem nodig het, kyk na Christus. Onthou dat as gevolg van sy oorwinning oor sonde, dood en alle ander sterflike uitdagings, niks onmoontlik is nie. Soek hoe Hy jou kan seën, en jy sal sy invloed in jou lewe sien. Hy het jou innig lief!