“Ek Sal Hulle Genees,” Liahona, Feb. 2025.
Maandelikse Liahona-boodskap, Februarie 2025
“Ek Sal Hulle Genees”
Die Saligmaker se genesingsbediening is ʼn goddelike voorspel en belofte van die blywende fisiese en emosionele genesing wat na elkeen van ons in die Opstanding sal kom.
Ek onthou nog duidelik sommige van die lang vlugte wat ek gedurende my professionele lewe as lugrederykaptein gemaak het.
In een daarvan sou ek om 11:00 in Duitsland opstyg en dieselfde dag om 13:00 in Kalifornië aankom. As die plaaslike vertrek- en aankomstye vergelyk word, kan dit lyk asof ʼn vlug oor die Atlantiese Oseaan en die Noord-Amerikaanse vasteland net twee ure geneem het. Die Boeing 747 was vinnig, maar nie só vinnig nie! In werklikheid het dit ons ongeveer 11 ure geneem, afhangende van wind, om die 9 000 km af te lê.
Omdat ons wes gevlieg het, het die son nooit gedurende ons vlug gesak nie. Ons het helder daglig die hele pad van Duitsland na Kalifornië geniet.
Om na Duitsland terug te keer, was egter ʼn heel ander storie. Selfs toe ons vroegmiddag opgestyg het, terwyl ons ooswaarts gevlieg het, het die sonsondergang vinniger gekom as wat dit normaalweg sou doen, en voor ons dit geweet het, was dit nag.
Gedurende hierdie lang vlugte was my siel dikwels vol ontsag terwyl ek nagedink het oor die skoonheid van hierdie aarde en die orde van God se skepping. Selfs terwyl ek in die nag in volkome duisternis gevlieg het, het ek met sekerheid geweet dat die son weer sou opkom, dat helder lig sou terugkeer en warmte en lewe sou bring na ʼn nuwe dag voor ons reis se einde. Die omstandighede van my vlug het dit dalk laat lyk asof die son stadiger of vinniger sak, maar ek het geweet dat die son konstant, standvastig en betroubaar in die hemel bly.
Ek voel dieselfde oor God. Omdat ek ʼn diepgegronde sekerheid het van God se wysheid en doel vir sy hele skepping, kan ek vreugdevolle hoop en blywende vrede voel wanneer ek aan ons sterflike bestaan dink. Ons is God se kinders. Hy het ons lief. Hy ken ons omstandighede. Hy is gereed om te help. Hierdie waarhede verander nie, selfs nie wanneer ander dinge rondom ons onstabiel en onvoorspelbaar lyk nie.
Ons ervaar almal oomblikke van duisternis, hartseer en onsekerheid wat ons vrede bedreig. Hoe dankbaar is ek tog vir die betroubare en ware bron van waarheid en lig (sien Leer en Verbonde 88:6–11). Jesus Christus is die lig en die lewe van die wêreld. As gevolg van Hom en sy soenoffer, het ons hoop vir die toekoms, toegang tot goddelike lig om die donker dae van ons reis te verhelder, en die belofte van uiteindelike oorwinning oor sonde en dood.
“Hy het die Wêreld Lief”
Jesus Christus was die enigste volmaakte mens wat ooit op die aarde gewandel het. As gevolg van sy volmaakte lewe, was Hy geen skuld aan geregtigheid verskuldig nie. Uit liefde vir ons het Hy sy lewe vir elkeen van ons individueel en vir al God se kinders gesamentlik gegee om onsterflikheid en die ewige lewe moontlik te maak.
Ten spyte van wat Satan ons wil laat glo, is nie een van ons buite die Saligmaker se vermoë om ons te red nie. Nie een van ons word gediskwalifiseer van die genade van vergifnis nie. Nie een van ons kan nie “ewiglik omvou [word] deur die arms van sy liefde” nie (2 Nefi 1:15).
Hierdie grootste van alle gawes kom uit die bemagtigende en verlossende krag van die Versoening van Jesus Christus. As gevolg van die Verlosser se lyding in Getsémané en op Gólgota, weet Hy hoe om ons te red van en ons te help deur al ons swakhede (sien Alma 7:12).
“Hy doen niks tensy dit tot die voordeel van die wêreld is nie; want Hy het die wêreld lief, sodat Hy selfs sy eie lewe neerlê sodat Hy alle mense na Hom kan trek” (2 Nefi 26:24).
Jesus Christus is ons krag!
Hy reik uit.
Hy herstel.
Hy red.
President Russell M. Nelson het gesê: “Toe die Saligmaker vir die hele mensdom [sy versoening gedoen het], het Hy ʼn manier geopen sodat diegene wat Hom volg, toegang tot sy genesing, versterking en verlossende krag kan hê.”
Daardie krag, soos die son, is altyd daar. Dit wankel nooit. Die keuse om in die voetspore van die Saligmaker te volg, is soos om uit die skaduwee en in die sonlig in te stap, waar ons die seëninge van God se lig, warmte en liefde kan ontvang. Ek weet dat ons eendag sal terugkyk en gevul sal wees met dankbaarheid dat ons die ewige belangrike besluit geneem het om Jesus Christus en sy goddelike liefde te vertrou om ons op te hef en te versterk.
“Keer Terug na My toe”
Die Boek van Mormon vertel van ʼn volk wat drie dae in die diepste duisternis deurgebring het ná die Saligmaker se Kruisiging. Die fisiese duisternis rondom hulle kan die geestelike duisternis simboliseer wat ons almal as gevolg van sonde ervaar. Toe hoor die volk die stem van Christus wat hulle uit die duisternis na sy lig nooi:
“Sal julle nie nou terugkeer na My, en bekeer van julle sondes, en tot inkeer kom, sodat Ek julle mag genees nie?” (3 Nefi 9:13).
“Julle sal as offerande aan My ʼn gebroke hart en ʼn verslae gees offer” (3 Nefi 9:20).
“Bekeer en keer terug na My met volle voorneme van hart” (3 Nefi 10:6).
Die Saligmaker rig dieselfde uitnodigings aan ons vandag wanneer ons onsself in die duisternis bevind. Net soos elke sonsopkoms die begin van ʼn nuwe dag aandui, ontvang ons elke keer as ons ons bekeer ʼn nuwe begin, ʼn helder nuwe begin.
Dit beteken nie dat dit maklik is nie. Bekering beteken verandering, en verandering gebeur nie vinnig nie. Hoewel bekering vreugdevol is, sluit dit wel “droefheid volgens die wil van God” in (2 Korinthiërs 7:10). Dit vereis dat ons ons verkeerde dinge erken en bely, vergifnis vra van God en van diegene wat ons dalk benadeel het. Bowenal vereis dit dat ons “die Gees van die Here Alvermoënd” soek, sodat ons “ʼn geweldige verandering in ons … harte [kan ervaar], dat ons nie meer die neiging het om kwaad te doen nie, maar om voortdurend goed te doen” (Mosia 5:2).
Daardie soort verandering is ʼn lang reis, maar sodra jy die eerste stap gee, begin “die dag van julle heil”, en “sal die groot plan van verlossing onmiddellik op julle toegepas word” (Alma 34:31).
Deur ons opregte bekering belowe God om ons sondes te vergewe en nie meer te onthou nie. Wanneer ons sukkel om ons sondes te vergeet, laat ons daarna streef om op die Here se belofte te vertrou om te vergewe en te leer om ander en onsself te vergewe.
“Ons gees word beskadig wanneer ons foute maak en sondes pleeg” het President Boyd K. Packer (1924–2015) geleer. “Maar anders as in die geval van ons sterflike liggame, wanneer die bekeringsproses voltooi is, bly daar geen letsels oor danksy die Versoening van Jesus Christus nie.”
Healing the Blind Man [Genesing van die Blinde Man], deur Carl Heinrich Bloch
“Bring Hulle Hierheen”
Die Saligmaker is die Meestergeneser. Een van die mooiste voorbeelde van sy genesende krag word gevind in die Boek van Mormon, in die verslag van sy persoonlike bediening in antieke Amerika:
“Het julle eniges onder julle wat siek is?” het Hy gevra. “Bring hulle hierheen. Het julle eniges wat lam is, of blind, of mank, of vermink, of melaats, of wat verdor is, of wat doof is, of wat op enige manier gekwel is? Bring hulle hierheen en Ek sal hulle genees, want Ek ontferm My oor julle; my binneste is gevul met barmhartigheid. …
“En dit het gebeur dat toe Hy so gespreek het, het die hele skare saam uitgegaan, met hulle siekes en hulle gekweldes, en hulle verlamdes, en met hulle blindes, en met hulle stommes, en met hulle almal wat gekwel is op enige wyse; en Hy het hulle elkeen genees soos hulle vorentoe gebring is na Hom” (3 Nefi 17:7, 9).
Elke keer as die Saligmaker iemand genees het wat “op enige manier gekwel was”, beide voor en ná sy Opstanding, was dit ʼn bewys van sy uiteindelike krag om ons siele te genees. Elke wonderbaarlike genesing was maar net ʼn voorspel en belofte van die blywende fisiese en emosionele genesing wat na elkeen van ons sal kom in die Opstanding, wat “die Here se volmaakte daad van genesing is.”
Dit is waar dat ons gebede vir genesing in hierdie lewe nie altyd verhoor word op die manier wat ons hoop nie, maar dit word nooit geïgnoreer nie. Die tyd vir genesing sal aanbreek, net soos die duisternis van die nag altyd plek maak—op die regte tyd—vir die heerlike sonsopkoms.
Soos President Nelson getuig het: “Ons geloof word nooit as waardeloos geag nie. Ek weet dat ʼn alwyse Hemelse Vader se perspektief baie wyer is as ons s’n. Terwyl ons weet van ons sterflike probleme en pyn, weet Hy van ons onsterflike vooruitgang en potensiaal. As ons bid om sy wil te ken en onsself met geduld en moed daaraan onderwerp, kan hemelse genesing op sy eie manier en tyd plaasvind.”
Ek en my vrou, Harriet, het onlangs ʼn spesiale hoop en pleidooi vir iemand vir wie ons lief is, in ons gebede ingesluit. Ons het gebid dat hul gesondheidsorgspan spesiale vermoë sal kry om hul siektes te genees. Ons is gelei om by te voeg dat selfs al sou ʼn onmiddellike genesing of herstel nie plaasvind nie, die Saligmaker se genesende krag hulle vertroosting en vrede kan bring. Die genesende effek van die Saligmaker se verlossende krag kan ʼn selfs groter impak op ons emosionele, geestelike en selfs fisiese gesondheid hê as enige aardse genesing wat ons mag ontvang. Jesus Christus is die Geneser in hierdie lewe en in die ewigheid.
My broers en susters, liewe vriende, ek getuig dat ons Saligmaker se barmhartigheid genoeg is om julle wonde te genees, julle van sonde te reinig, julle te versterk vir beproewings wat kom, en julle te seën met hoop, wysheid en sy vrede. Sy krag is altyd daar—konstant en betroubaar—selfs wanneer ons vir ʼn tyd lank ver van sy liefde, lig en warmte voel.
Ek bid dat ons nooit ons gevoel van ontsag en diepe dankbaarheid verloor vir alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het nie. Weet asseblief dat julle volkome geliefd is, en onthou wat vir ewig aan julle belowe is.
“Mag God aan julle gun dat julle laste lig mag wees, deur die vreugde van sy Seun,” Jesus Christus (Alma 33:23).
© 2025 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, February 2025. Afrikaans. 19609 501