2025
Jesus Christus Is Ook vir die Goeie Dae
Vir die Krag van die Jeug September 2025


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, September 2025

Jesus Christus Is Ook vir die Goeie Dae

Hoe kan ons op die Saligmaker gefokus bly wanneer dinge goed gaan? Hier is ʼn paar voorstelle.

glimlaggende gesig teen die son uitgesny

Stel jou voor as ʼn vriend net tyd saam met jou spandeer wanneer hulle sukkel en jou vermy wanneer hulle gelukkig is. Gesonde verhouding? Nie werklik nie.

Doen ons dit ooit aan ons Saligmaker—soek ons Hom in die moeilike tye en vergeet van Hom in die goeie tye?

Ons praat baie oor hoe Jesus Christus ons deur ons moeilike tye help, waarskynlik omdat almal op een of ander tyd moeilike dinge ervaar.

Maar daar is sommige dae—weke, of selfs jare, as ons gelukkig is—waar dinge werklik goed gaan. Soms vergeet ons die Saligmaker in daardie tye. Die mense van die Boek van Mormon het. Hulle was vir ʼn tyd voorspoedig deur God se seëninge, maar het uiteindelik die slagoffer van hoogmoed geword toe hulle van Hom vergeet het.

Goeie tye beteken nie dat ons skielik nie meer vir Jesus Christus nodig het nie. Tye van voorspoed is die perfekte tye om saam met die Saligmaker verheug te wees, nie om Hom te vergeet nie.

Hoe bly ons dus in verbinding met Jesus Christus en ons Vader in die Hemel wanneer beproewings ons nie herinner om na Hulle te keer nie?

Bly Nederig

Wanneer dinge goed gaan, is dit goed om jou seëninge en prestasies te vier. Maar moenie vergeet wie dit vir jou moontlik gemaak het om te wees waar jy is nie. Koning Benjamin het dit op so ʼn wyse in sy Boek van Mormon-predikasie gestel:

“Want kyk, is ons nie almal bedelaars nie? Is ons nie almal afhanklik van dieselfde Wese, naamlik God, vir al die besittings wat ons het nie, vir beide voedsel en kleding, en vir goud, en vir silwer, en vir al die rykdom wat ons het van allerlei soorte nie?” (Mosia 4:19).

Om nederig te wees oor jou sukses deur te onthou wat Hemelse Vader en Jesus Christus vir jou gedoen het, is ʼn goeie manier om Hulle gedurende jou goeie tye in te sluit.

Bly Dankbaar

Dankbaarheid is een van die beste teenmiddels teen hoogmoed en vergeetagtigheid. Om God te dank sal jou help om Hom en al die goeie dinge wat Hy en sy Seun in jou lewe doen, te onthou. Dit is net so effektief in goeie tye as wat dit in moeilike tye is.

Bly Waaksaam

Een van Satan se gunsteling aanvalle is dat hy jou “paai en [jou] wegsus in vleeslike gerustheid” (2 Nefi 28:21). Met ander woorde, hy sal daarvan hou as jy só tevrede en gerus voel in jou goeie tye dat jy vergeet wat die meeste saak maak. Moet God dus nie vergeet nie! Wanneer jy waaksaam bly teen die teenstander se subtiele truuks en hulle selfs gedurende jou goeie tye weerstaan, kan jy na aan Hemelse Vader en Jesus Christus bly.

jong dame

The Good Shepherd [Die Goeie Herder], deur Michael Malm

Bly Gefokus op Christus

President Russell M. Nelson het geleer: “Wanneer die fokus van ons lewens op God se heilsplan … en Jesus Christus en sy evangelie is, kan ons vreugde voel ongeag wat in ons lewens gebeur—of nie gebeur nie. Vreugde kom van Hom en as gevolg van Hom. Hy is die bron van alle vreugde.”

Hoe dikwels dink jy aan hierdie waarheid oor vreugde wanneer dit goed gaan in die lewe? Dit is nie net vertroostende raad vir wanneer dinge moeilik gaan nie. Dit is altyd waar, ook op jou beste dae. Doen dus alles wat jy kan om op Christus te fokus, óf dit nou gedurende die goeie óf slegte tye is.

Nota

  1. Russell M. Nelson, Okt. 2016 algemene konferensie (Ensign of Liahona, Nov. 2016, 82).