2019
Kan Ek Iemand Help om te Verander?
Augustus 2019


ministering

Beginsels van Bediening, Augustus 2019

Kan Ek Iemand Help om te Verander?

Ja. Maar jou rol mag anders wees as wat jy gedink het.

Ons is geskape met die kapasiteit om te verander. Die doel van ons aardse ondervinding is om na ons goddelike potensiaal te ontwikkel. Een van ons uiteindelike doelstellings in bediening is om ander te help om na Christus te kom en die nodige veranderinge te maak om na sy teenwoordigheid terug te keer. Maar as gevolg van hulle handelingsmag, is ons rol om hulle te help om meer soos Christus te word, beperk.

Hier is sewe kragtige lesse van die Saligmaker oor hoe ons ander kan help in hulle pogings om te verander en meer soos Hy te word.

  1. Moenie Bang Wees om Verandering Uit te Nooi Nie

    Die Saligmaker was nie bang om ander te nooi om ou weë te verlaat en sy leringe aan te neem nie. Hy het Petrus en Johannes genooi om hulle werk te los en “vissers van mense” te word (Markus 1:17). Hy het die owerspelige vrou genooi om te “gaan en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Hy het die ryk jongman genooi om sy gehegtheid aan aardse dinge prys te gee en om Hom te volg (sien Markus 10:17–22). Ons kan ook beide vrymoedig en liefdevol wees as ons ander nooi om veranderinge te maak en die Saligmaker te volg.

  2. Onthou Dit is Hulle Keuse om te Verander

    Die soort verandering wat die Saligmaker nooi kan nie afgedwing word nie. Die Saligmaker het geleer en uitgenooi, maar Hy het nie gedwing nie. Die ryk jongman het “bedroef weggegaan” (Matthéüs 19:22). In Kapérnaüm het baie van sy dissipels gekies om “terug te gaan”, en Hy het die Twaalf gevra of hulle ook wou weggaan (sien Johannes 6:66–67). Party van Johannes die Doper se volgelinge het gekies om die Saligmaker te volg, ander nie (sien Johannes 1:35–37; 10:40–42). Ons kan ander nooi om meer soos Hy te word, maar ons kan nie die besluit om te verander vir hulle neem nie. En as hulle nog nie gekies het om te verander nie, moet ons nie opgee nie—ons moet ook nie voel dat ons gefaal het nie.

  3. Bid vir Ander se Vermoë om te Verander

    Tydens sy Tussenbeidetredingsgebed, het Jesus vir God gevra dat sy dissipels van sonde bewaar mag word, meer soos Hy en die Vader mag word, en met God se liefde gevul mag wees (sien Johannes 17:11, 21–23, 26). En omdat Hy geweet het dat Petrus krag sou nodig hê om in sy rol te ontwikkel, het die Saligmaker vir hom gebid (sien Lukas 22:32). Ons gebede vir ander kan ʼn verskil maak (sien Jakobus 5:16).

  4. Leer Hulle om op Sy Krag te Vertrou

    Dit is slegs deur die Saligmaker dat ons werklik kan verander en ontwikkel na die goddelike potensiaal wat ons almal het. Hy is “die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur [Hom] nie” (Johannes 14:6) Dit is sy krag wat “swak dinge sterk laat word” (Ether 12:27). Dit was geloof in sy versoenende krag wat Alma die Jongere in staat gestel het om te verander (sien Alma 36:16–23). Ons kan ander leer om op die Saligmaker staat te maak sodat hulle ook sy suiwerende krag in hulle lewens kan hê.

  5. Behandel Hulle Soos Wat Hulle Kan Word

    Liefde en aanvaarding kan kragtige middels van verandering wees. Die vrou by die put het saam met ʼn man gebly wat nie haar eggenoot was nie. Jesus se dissipels het hulle “verwonder dat Hy met die vrou in gesprek was” (Johannes 4:27), maar Jesus het meer belang gestel in wat sy kon word. Hy het haar geleer en haar die geleentheid om te verander, gegee, wat sy gedoen het. (Sien Johannes 4:4–42.)

    Wanneer ons ander behandel soos wat hulle was eerder as wat hulle kan word, hou ons hulle terug. Inteendeel, ons kan foute in die verlede vergewe en vergeet. Ons kan glo dat ander kan verander. Ons kan swakhede oorsien en die positiewe eienskappe wat hulle nie in hulleself kan raaksien nie, uitwys. “Ons het die verantwoordelikheid om individue nie te sien soos hulle is nie, maar eerder as wat hulle kan word.”1

  6. Laat Hulle op Hulle Eie Pas Voortgaan

    Verandering kan tyd neem. Ons moet almal “volhard in geduld tot [ons] vervolmaak is” (Leer en Verbonde 67:13). Jesus het geduld met ander gehad en voortgegaan om selfs diegene wat Hom teengestaan het, te onderrig, deur te getuig van sy rol wat aan Hom gegee is deur sy Vader en hulle vrae te beantwoord (sien Matthèüs 12:1–13; John 7:28–29). Ons kan geduldig met ander wees en hulle aanmoedig om geduldig met hulself te wees.

  7. Moenie Tou Opgooi as Hulle Terugval op hulle Ou Weë Nie

    Na Christus se dood het selfs Petrus en sommige van die ander Apostels teruggekeer na dít waarmee hulle vertroud was (sien Johannes 21:3). Christus het Petrus herinner dat hy “[sy] skape [moes] laat wei” (sien Johannes 21:15–17), en Petrus het teruggekeer na die bediening. Dit kan baie maklik wees om terug te keer na ou weë. Ons kan aanhou om te ondersteun met tere aanmoediging en geïnspireerde uitnodigings om aan te hou om die Saligmaker te volg en meer soos Hy te word.

Laat Ander Toe om te Groei

Ouderling Jeffrey R. Holland van die Kworum van die Twaalf Apostels vertel hierdie storie oor om ander toe te laat om te groei: “Ek is eens vertel van ʼn jong man wat vir baie jare min of meer die teiken van elke grap in sy skool was. Hy het ʼn paar tekortkominge gehad, en dit was maklik vir sy skoolmaats om hom te terg. Hy het later in sy lewe weggetrek. Hy het uiteindelik by die weermag aangesluit en het daar ʼn paar suksesvolle ondervindings gehad om opvoeding te kry en oor die algemeen om van sy verlede weg te beweeg. Bowenal, soos baie in die weermag doen, het hy die prag en majesteit van die Kerk ontdek en aktief en gelukkig daarin geword.

“Toe, na etlike jare het hy na die dorp van sy jeug teruggekeer. Die meeste van sy geslag het getrek, maar nie almal nie. Dit blyk dat toe hy heel suksesvol en heeltemal hergebore terugkeer, het dieselfde ou gesindheid wat bestaan het toe hy daar was, op sy terugkeer vir hom gewag het. Vir die mense van sy tuisdorp was hy nog steeds ou ‘so-en-so.’ …

“Bietjie vir bietjie het hierdie man se poging soos dié van Paulus om dít wat agtergelaat is en die prys wat God voor hom gelê het, gaandeweg verminder totdat hy dood is op dieselfde wyse wat hy in sy jeug geleef het. … Dit is jammer en tragies dat hy weer omring is deur … diegene wat gedink het sy verlede is meer interessant as sy toekoms. Hulle het daarin geslaag om van hom weg te ruk dít waarvoor Christus hom weggeruk het. En hy is droewig dood, alhoewel nie deur sy eie toedoen nie. …

Laat mense bekeer. Laat mense groei. Glo dat mense kan verander en verbeter.”2

Notas

  1. Thomas S. Monson, “See Others as They May Become,” Liahona, Nov. 2012, 70.

  2. Jeffrey R. Holland, “The Best Is Yet to Be,” Liahona, Jan. 2010, 19, 20.