Vir die Krag van die Jeug
Wil Jy Gelukkiger Wees? Probeer Dankbaarheid
Vir die Krag van die Jeug Februarie 2026


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Februarie 2026

Wil Jy Gelukkiger Wees? Probeer Dankbaarheid

Wanneer jou lewe vol veranderinge is kan dankbaarheid jou help om te fokus op die positiewe en om hoopvol te bly.

ʼn persoon onder reënwolke en ʼn persoon wat deur voëls en skoenlappers en blomme omring word

Illustrasies deur Maggie Stephenson

Jy sal nooit gelukkiger wees as wat jy dankbaar is nie.”

Net soos hierdie aanhaling van Ouderling Gary B. Sabin van die Sewentig suggereer, word hoe gelukkig jy is direk beïnvloed deur hoe dankbaar jy is. Dit maak sin—wanneer jy dankbaar is, fokus jy op positiewe dinge in plaas van negatiewe dinge.

Tóg verloop die lewe nie altyd volgens plan nie. Onverwagte veranderinge kan jou meer gespanne, hartseer of gefrustreerd as gelukkig maak. Maar wanneer dinge moeilik is, kan dankbaarheid jou help om hoopvol te bly. Probeer hierdie drie maniere om meer dankbaarheid in jou lewe te bring.

1. Soek vir die Goeie

Dit is dikwels moeilik om dankbaar te wees wanneer jy voel dat jy iets kortkom. Maar watter seëninge sien jy dalk oor die hoof deur te fokus op wat jy nié het nie eerder as op wat jy wél het?

Soos jy na die goeie in jou lewe soek, sal dit mettertyd makliker word om te vind.

2. Spreek dankbaarheid uit teenoor die Gewer

Wanneer jy jou seëninge tel, moenie vergeet waar hulle vandaan kom nie.

Om Hemelse Vader te dank vir sy gawes—insluitend die gawe van sy Seun—kan jou liefde vir en geloof in Hom verdiep. President D. Todd Christofferson, Tweede Raadgewer in die Eerste Presidensie verduidelik ook: “Om dankbaarheid teenoor God te voel en uit te druk … vul aanbidding met ʼn gevoel van vreugdevolle vernuwing,” wat jou vreugde en krag bring en help om jou getuienis veilig te hou.

3. Fokus op Hemelse Vader se Plan

Natuurlik beteken dankbaarheid nie om die moeilike dinge in die lewe te ignoreer of heeltyd gelukkig te voel nie. Selfs Jesus Christus het pyn ervaar en erken (sien Alma 7:11; Leer en Verbonde 19:18–19). Droefheid is ʼn normale deel van sterflikheid.

Maar dit maak nie saak wat nie, een ding verander nooit: Hemelse Vader se plan van barmhartigheid. Al die droefheid en seer wat jy in die lewe ervaar, sal reggestel word as gevolg van Jesus Christus en sy Versoening (sien Openbaring 21:4).

Ouderling Dieter F. Uchtdorf van die Kworum van die Twaalf Apostels het verduidelik: “Om dankbaar te wees in tye van nood beteken nié dat ons tevrede is met ons omstandighede nie. Dit beteken wél dat ons deur die oë van geloof verder as ons huidige uitdagings kyk.”

Notas

  1. Gary B. Sabin, Okt. 2023 algemene konferensie (Liahona, Nov. 2023, 58).

  2. D. Todd Christofferson, Apr. 2025 algemene konferensie (Liahona, Mei 2025, 77).

  3. Dieter F. Uchtdorf, “Grateful in Any Circumstances,” Apr. 2014 algemene konferensie (Ensign of Liahona, Mei 2014, 76).